Update
CALITZDORP NUUS - Die vonnisoplegging van Petrus van Willing van Calitzdorp, wat sy motor oorlaai en 'n ongeluk veroorsaak het waarin 'n jong man gesterf het, en aan strafbare manslag skuldig bevind is, sloer steeds.
Die rede vir die oponthoud is omdat proefbeampte- en korrektiewe verslae wat aangevra is, nog nie beskikbaar is nie.
Streeklanddros Retha Pretorius het met uitspraak gesê dit was growwe nalatigheid van Van Willing wat gelei het tot die ongeluk en dood van Keanan Prinsloo (24), 'n pa van vier kinders.
Die ongeluk het op 29 Desember 2016 op die Calitzdorp-pad plaasgevind.
Van Willing het 'n bakkie, waarin Prinsloo 'n passasier was, met sy Mercedes Benz-motor probeer verbysteek, maar van plan verander uit vrees dat hy met 'n aankomende voertuig sou bots.
Sy motor het die sleepwaentjie agter die bakkie getref en albei voertuie het omgeslaan.
Izolda Arnoldus het getuig dat sy op die skoot van Minette Fortuin agter die bestuurder gesit en op die spoedmeter gesien het dat hy teen 'n spoed van 180 km per uur gery het. Sy het hom gevra om stadiger te ry, maar hy het haar geïgnoreer.
Daar was agt volwassenes en twee kinders in sy motor. Die hof het die getuienis van Fortuin as geloofwaardig bevind.
Daarenteen het Alvin Pienaar, bestuurder van die bakkie, en Nigel Maart, 'n passasier, mekaar weerspreek.
Albei, sowel as die beskuldigde, het volgens die landdros nie 'n goeie indruk op die hof gemaak nie.
"Daar is geen twyfel dat die oorlaaide voertuig 'n direkte invloed op die bestuursvermoë van die beskuldigde gehad het nie. Hy het die lewens van sy passasiers sowel as ander padgebruikers in gevaar gestel."
Vonnisverrigtinge is die keer tot 26 Julie uitgestel.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'