CALITZDORP NUUS - Die verhoor van 'n man van Calitzdorp wat van strafbare manslag aangekla word is in die Oudtshoorn-streekhof uitgestel na 'n versoek van die verdediging om 'n sleutel-staatsgetuie terug te roep.
Petrus van Wieling word daarvan aangekla dat hy op 29 Desember 2016 op die Calitzdorp-pad 'n ongeluk veroorsaak het wat tot die dood van Keenan Prinsloo gelei het. Prinsloo het tydens die botsing uit die Toyota-bakkie wat deur Van Wieling se motor getref is, geval.
Die Oudtshoorn Courant het in Januarie 2017 oor die botsing berig. Die Mercedes waarvan Van Wieling die bestuurder was, wou die bakkie verbysteek, maar het probeer terugswaai toe daar aankomende verkeer was en die bakkie getref. Beide voertuie het gerol.
Nege persone, waaronder twee kinders, is in die ongeluk beseer.
Een van die insittendes van die Mercedes, Morné Winster (37), is tydens die ongeluk verlam, maar het intussen gedeeltelike gebruik van sy bene teruggekry.
Daar was agt volwassenes en twee kinders saam met Van Wieling in sy motor en drie insittendes in die bakkie.
Die Oudtshoorn Courant was op die toneel toe 'n alkoholtoets deur 'n verkeersbeampte op Van Wieling uitgevoer is en daar bevind is dat die lesing die wettige perk oorskry. Hy is in 'n polisievoertuig van die toneel weggeneem, maar dit is onduidelik of 'n klag van dronkbestuur toe gelê is.
Van Wieling se bewering dat die bestuurder van die bakkie, Alwin Prinsloo, ook spoed verminder het word deur die staat bevraagteken omdat dit nie tydens Prinsloo se getuienis aan hom gestel is nie.
Volgens Van Wieling het hulle die betrokke dag langs die pad net buite Calitzdorp gekuier.
Keenan Prinsloo het in die ongeluk gesterf.
Op 'n vraag van die staatsaanklaer, Willem Vister, of hy onder die invloed van drank was, het Van Wieling getuig dat hy sy laaste Whiskey teen 10:00 die oggend gedrink het. Hy het die bottel Whiskey gekoop, maar Winster het feitlik driekwart daarvan gedrink.
Hy het ook ontken dat van sy passasiers hom gevra het om stadiger te ry.
"My motor is 'n vinnige motor en alhoewel dit vir hulle gelyk het asof ek te vinnig ry was ek binne die spoedgrens," het Van Wieling getuig.
Die Mercedes van Petrus van Wieling na die ongeluk. Van Wieling staan links van die voertuig met 'n verband om sy kop.
Van Wieling het ook getuig dat passasiers agter in sy motor nie die spoedmeter kan sien nie, al het 'n persoon ook, soos wat Minette Fortuin getuig het, op die skoot van 'n ander gesit.
Streeklanddros Retha Pretorius het op versoek van Van Wieling se regsverteenwoordiger, Clyde Avontuur, dat die getuie teruggeroep word, tot 11 Julie uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'