OUDTSHOORN NUUS - Die H5N8-voëlgriepvirus is tydens 'n roetine nadoodse ondersoek by volstruise wat op 'n plaas tussen Oudtshoorn en Calitzdorp gevrek het, gevind. Plase in 'n radius van 10 km rondom die besmette plaas is onder kwarantyn geplaas, en sowat 25 plase word geraak.
Sewe broeivolstruise het binne die tydperk van 'n week op die plaas gevrek. Dit is die eer-ste keer dat die H5N8-virusstam in 'n volstruis gevind is.
"Dit beteken nie dat die volstruise weens die virus gevrek het nie," sê dr. Adriaan Olivier, veearts van die Suid-Afrikaanse Volstruisbesigheidskamer (SAVBK).
Daar is verskeie redes wat tot vrektes onder broeivolstruise in 'n vryloopstelsel kan lei.
Dit sluit onder meer in beenbreuke wat voorkom wanneer die volstruise in 'n kampdraad vashardloop, of wanneer die mannetjie die wyfie se heupe beskadig sodat sy nie kan beweeg en vreet nie.
Volgens Olivier gebeur dit ook dat vrylopende broeivoëls soms gifplante eet wat tot vrektes lei, veral wanneer daar tydens 'n droogte nie baie plante met 'n hoë voedingswaarde in die broeikampe oor is nie.
"Geen verdere vrektes het sedertdien voorgekom nie en die res van die voëls is oukei, be-
halwe dat eierproduksie afgeneem het. Die mannetjies vertoon nie soos gewoonlik 'n statige, aggressiewe houding nie, en die wyfies is nie kloeks nie." Volstruise in naasliggende kampe toon geen afwykende gedrag nie.
Volgens die Dieresiektewet, Wet 35 van 1984, is voëlgriep (Avian Infuenza of AI) 'n aanmeldbare siekte, en alle volstruise ondergaan ge-reeld roetine-toetse.
Die H5N8-virus is in Augustus tydens roetinetoetsing op drie volstruisplase in die Heidelberg-distrik gevind. Geen volstruisvrektes is daar aangemeld nie.
Die virus word vermoedelik deur watervoëls versprei. "Produsente doen alles in hul vermoë om kontak tussen watervoëls en hul volstruise te voorkom, maar omdat volstruise in 'n vryloopstelsel aangehou word, is dit feitlik onmoontlik om alle kontak te vermy.
"Boonop is elke volstruisplaas 'n klein oase vir wilde voëls omdat daar kos en water voorsien word."
Die H5N8-virusstam is in Junie vanjaar op kommersiële hoenderplase in die noordelike provinsies aangemeld. Sedertdien is dit op altesaam 24 hoenderplase aangemeld en derduisende hoenders is reeds van kant gemaak.
Volgens Olivier is daar tot dusver geen voorvalle van die virus wat van volstruise na pluimvee oorgedra word nie. Daar is ook geen voorvalle aangemeld wat die virus na die mens oorgedra is nie.
Hy het opnuut die versekering gegee dat alle volstruise voor slagting getoets word. "Volstruis-vleis op winkelrakke is veilig vir menslike gebruik," sê hy.
Vir meer inligting oor biosekerheidsmaatreëls, kontak die SAVBK by 044 272 3336.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'