OUDTSHOORN NUUS - Die sestien oorlewende Vollies van die klas van 1969, oudstudente van die Bridgton Opleidingskollege op Oudtshoorn (later die Onderwyskollege Suid-Kaapland), en van hul gades, het verlede maand hulle 50 jaar reünie by die De Hoek-vakansieoord gehou. Van die klas van 47 is 31 reeds oorlede.
Oud-Vollies het van Worcester, Piketberg, Hopefield, Kraaifontein, Vredenburg, Oudtshoorn, Saron, Port Elizabeth, Cradock, Kimberley, De Aar, Potchefstroom en Pretoria gekom.
Die Saterdagaand was 'n groot geleentheid met almal wat in formele drag getooi was vir die amptelike 50ste herdenking van kameraadskap.
Muriel Goeda van Port Elizabeth het 'n spesiale koek laat maak met die kollegewapen en foto van almal wat tydens hul eerste jaar op kollege in 1969 geneem is.
Die vroue het die mans met 'n unieke geskenk verras.
Elkeen het 'n handgemaakte sakkie gekry waarin daar 'n skoenborsel, 'n blik swart skoenpolitoer, 'n poetslap asook 'n gelamineerde groepfoto wat in 1969 geneem is.
Die hoogtepunt van die naweek was 'n dankseggingsdiens wat gelei is deur Joe van Wyk met die boodskap, "Ter ere van Vriendskap".
Tydens die nabetragtigingsvergadering is onder andere ook 'n fonds vir die mense van Wuppertal gestig.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'