KANNALAND NUUS - "Tot onlangs het Kannaland meestal vir negatiewe dinge die nuusblaaie en selfs televisie gehaal. Dit het my gemotiveer om op 51-jarige ouderdom te bewys dat daar ook iets goeds uit Kannaland kan kom."
So het Dawid Bothman, gekwalifiseerde motorvoertuigondersoeker by Kannaland-munisipaliteit, tydens 'n onderhoud met Oudtshoorn Courant gesê.
Bothman het op 31 Maart vanjaar sy kursus by die Gene Louw-verkeerskollege in Brackenfell voltooi. Hierdie kursus het hom drie maande van sy gesin weggehou alhoewel hy hulle darem oor naweke kon besoek.
"Ek was eers na matriek 'n plaaswerker waar my pa gewerk het. Nadat die plaas-eienaar vasgestel het dat ek oor matriek beskik, het hy my by sy motorhawe in Ladismith 'n werk aangebied waarvoor ek hom ewig dankbaar sal wees."
Hierna het Bothman vir 13 jaar by 'n plaaslike bandehandelaar in die dorp gewerk waar hy gou 'n ankerrol vervul het.
Dis ook in hierdie tydperk dat die geleentheid by Kannaland-munisipaliteit vir hom oopgegaan. Hier het hy sy werk met trots en ywer verrig, soveel so dat hy later as put-assistent by die toetsstasie onder leiding van die huidige verkeershoof, Leslie Februarie, aangestel is.
Volgens Bothman het Februarie hom baie geleer en hom aangespoor om die kursus as voertuigondersoeker te begin.
Bothman sê dat hy eintlik reeds vroeër met sy kursus kon begin, maar dat die uitbreek van Covid-19 hom twee jaar teruggesit het.
"Ek het ook groot lof vir Randy Damons, een van my lektore wat my onder sy vlerk geneem het en gemotiveer het. Hy het my altyd aangespoor om positief te bly en my gesin in my gedagte te hou. Dit het vir my gewerk en ek was suksesvol."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’