Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Die insittendes van 'n splinternuwe Nissan-bussie was Saterdagmiddag uiters gelukkig om met slegs ligte beserings uit die voertuigwrak te kom nadat dit gerol het.
Volgens die bestuurder, Clifford Gilpin, was hy en sy vrou en hulle babatjie saam met drie ander volwassenes op pad huis toe na 'n vakansie in die Suid-Kaap toe die ongeluk gebeur het.
Die voertuig en sleepwaentjie het sowat twee kilometer verby Buffelsdrift Game Lodge die pad verlaat, gerol en weer op die wiele te lande gekom.
Kyk 'n video hieronder:
"Ek het normaalweg gery toe die kar begin swaai het. Ek het probeer om die bussie reguit te hou, maar dit het met die sleepwaentjie begin swaai en die volgende oomblik was ons van die pad af. Ek het eers later besef dis 'n band wat gebars het," het 'n geskokte Gilpin Saterdagmiddag op die toneel gesê nadat sy skoonma in 'n ambulans gelaai is.
Hulle babatjie van 18 maande en sy vrou is deur 'n verbyganger na 'n hospitaal in Oudtshoorn geneem en 'n polisievoertuig het die ander passasiers ook hospitaal toe geneem terwyl paramedici aandag aan Gilpin se skoonma, wat nog in die voertuig was, gegee het.
'n Paramedikus van George wat van diens af was, het op die ongeluk afgekom en hulp verleen totdat noodvoertuie opgedaag het.
Terwyl Gilpin op die toneel gewag het dat 'n insleepdiens die voertuig verwyder en dat 'n familielid uit Mosselbaai by hom aansluit, het hy verneem dat sy vrou en baba nie ernstig beseer is nie. Volgens hom is die ander passasiers ook nie ernstig beseer nie.
Hy het aan Oudtshoorn Courant verduidelik dat hulle op pad Johannesburg toe was en op Colesberg sou oornag toe die ongeluk gebeur het. Hy was uit die veld geslaan toe hy verneem het dat die pad waarmee hulle onderweg was hulle nie in Colesberg sou uitbring nie. Volgens hom het hy aanwysings op sy GPS gevolg en was hy onder die indruk dat die pad waarop hulle was na Beaufort-Wes en dan na Colesberg sou lei. Hulle sou hulle terugkeer hierdie week hervat nadat almal na die ongeluk tot verhaal gekom het.
Paramedici haal die voertuigbestuurder se vrou uit die wrak. Die persoon regs op die foto is 'n paramedikus wat van diens af was en op die ongeluk afgekom het. Foto's: Hannes Visser
Vorige artikel: Bussie met 6 rol
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'