Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - 'n Groep vakansiegangers van Johannesburg se voertuig het vanmiddag omstreeks 15:30 op die grottepad 'n ent verby Buffeldrift Game Lodge gerol.
Volgens die geskokte bestuurder van die Nissan-bussie het 'n sterk rukwind die bussie getref en hy het beheer verloor.
Daar was nog drie volwassenes in die bussie saam met hom, sy vrou en hulle baba. 'n Motoris wat stilgehou het, het met die baba en een van die passasiers hospitaal toe gejaag.
'n Polisievoertuig wat op die toneel afgekom het, het ook van die passasiers hospitaal toe geneem.
Met die aankoms van Oudtshoorn Courant op die toneel was paramedici besig om die bestuurder se vrou uit die voertuig te haal. Sy is per ambulans hospitaal toe.
Die bestuurder het sowat 'n halfuur later gesê hy kan bevestig dat hulle baba nie ernstig beseer is nie en sover hy kon vasstel is sy vrou en die ander passasiers ook nie ernstig beseer nie.
Hy het ook gesê dat 'n familielid uit Mosselbaai onderweg is om hulle te haal.
Kyk 'n video hieronder:
Die voertuig het op die grottepad gerol:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'