OUDTSHOORN NUUS - AfriForum en Saai het op 12 Oktober hande gevat en 120 ton voer aan boere in die Volmoed-omgewing buite Oudtshoorn geskenk. Die voer, wat uit voerpille vir volstruise en lusern bestaan, is by Karoo Lusern afgelaai vanwaar dit versprei word.
Die skenking volg kort ná ’n besoek aan die gebied deur ’n afvaardiging van Saai, gelei deur dr. Theo de Jager, in September om ondersoek in te stel na die knellende droogte.
Die benarde posisie waarin spesifiek die Volmoed-omgewing se boeregemeenskap hulself bevind het die wiele aan die rol gesit vir hulp.
“Hierdie gebied gaan onder die ergste droogte denkbaar gebuk. Waterbronne is uitgeput, temperature is hoog en steeds ontwyk die uitkoms ons. In my meer as 30 jaar op die plaas as voltydse boer het ek dit nog nie so gesien nie. Skenkings soos hierdie skep die hoop waaraan ons boere vasklou. Ons kon vandag 50 boere se omstandighede ’n bietjie meer draaglik maak. Ons is opreg dankbaar vir die welkome skenking,” sê Laubscher Coetzee, ’n boer van die Volmoed-omgewing.
“Ons wat hier bly sien ook hoe Oudtshoorn as ’n dorp bloei tydens hierdie droogte. Die dorpsgemeenskap is geweldig afhanklik van ’n gesonde boeregemeenskap. Met die huidige toestande het ’n skenking aan die boere ook ’n impak op die dorp in sy geheel. Ons is trots om deel te wees van die inisiatief en bedank graag almal wat dit moontlik gemaak het, waaronder Laubscher Coetzee, wat gehelp het met die logistieke reëlings, Johan Conradie en sy plaaslike takbestuur wat ingespring het om te help, en Saai,” sê Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.
AfriForum en Saai het op 12 Oktober voer aan boere in die Volmoed-omgewing geskenk. Foto: Verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'