Dít was die boodskap van Justin Brady van die Verenigde Nasies se humanitêre afdeling tydens die gedenkdiens wat Woensdag vir Morné Lötter gehou is. Dit blyk dat Morné en Alan Simpson, die ander Suid-Afrikaner wat verlede week in Somalië gesterf het en nog 'n manlike kollega, hulle lywe gebruik het om 'n vroulike VN-werker wat in die kantoor saam met hulle was tydens die aanval te beskerm.
Morné se vrou, Yvette sê dat die aanvallers 'n handgranaat in die kantoor waar Morné en die drie kollegas was ingegooi het. Sy is meegedeel dat Morné en die ander twee mans se liggame bo-op die vroulike VN werker gelê het en dat hulle haar waarskynlik probeer beskerm het toe die handgranaat in die kantoor geland het. Sy is egter ook dood in die ontploffing.
Die kerkgebou van die NG gemeente Oudtshoorn-Wes was volgepak terwyl ds. Jan Marais sy boodskap van vertroosting aan Morné se gesin, familielede en vriende gebring het. Behalwe vir vriende en familie was vier van Morné se kollegas van Mechem, die maatskappy in wie se diens Morné was, asook vier verteenwoordigers van die VN by die diens. In sy huldeblyk het die hoofuitvoerende beampte van Mechem, Ashley Williams gesê dat Morné 'n uitsonderlike persoon en dat hy oral respek afgedwing het. "Morné, eie aan sy aard, was ook by verskeie liefdadigheidsprojekte in Somalië betrokke."
'n Bewoë Justin Brady het daarna vertel dat Morné gereeld op die vraag "How are you?" geantwoord het "I am happy". Brady het 'n huldeblyk van die VN se humanitêre koördineerder, Philippe Lazzarini voorgelees. Na die huldeblyk het hy vir Yvette vorentoe geroep en die VN vlag wat tydens die roudiens oor Morné se kis gedrapeer was, aan haar oorhandig. "Dit is die eerste keer dat 'n VN-vlag aan iemand gegee word wat nie aan die VN verbonde was nie," het hy gesê.
Die vlag wat oor Alan Simpson se kis was, is ook gister tydens sy begrafnis in Port Elizabeth deur die VN aan sy vrou oorhandig.
Ten spyte van 'n baie vol gemoed het Yvette 'n huldeblyk aan Morné gebring en hom bedank vir wat hy vir sy gesin beteken het. Sy het die huldeblyk afgesluit met die woorde: "Ons hoor jou voetstappe in die gange van ons harte. Ons herken jou stem by die vensters van herinneringe. Ons sien jou lewensvreugde in die spieëls van nooit vergeet."
'n Span van Carte Blanche het gister, as deel van 'n groter storie waaraan hulle werk, 'n onderhoud met Yvette gevoer.
Justin Brady van die VN oorhandig die VN-vlag wat oor Morné se kis was aan Yvette tydens die gedenkdiens.
ARTIKEL EN FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'