OUDTSHOORN NUUS - Die oorsaak van die tragiese vliegtuigongeluk wat die lewe van Nicole Mienie (21) geëis het, is nog onbekend. Sy is die dogter van plaaslike inwoners, Nico en Alicia Mienie.
Nicole het op 30 Augustus omstreeks 12:00 met die Cessna Centurion C210, VS-LMK, op die lughawe, Impalila-eiland in die Zambezi-area, Namibië opgestyg.
Saam met haar in die vliegtuig was ‘n Duitse gesin van vier, wat onderweg na Rundu was. Die vliegtuig het kort nadat dit opgestyg het op die oewer van die Zambezirivier neergestort, en die lewens van al vyf insittendes geëis.
Michael Böttger, besturende direkteur by Scenic Air (Pty) Ltd, het in ‘n mediaverklaring gesê dat die oorsaak van die ongeluk deur die Directorate of Aircraft Accident Investigation (DAAI) ondersoek gaan word.
Volgens Lisa Meyer, 'n familievriend van die Mienies, ontvang hulle 100de boodskappe van mense wat vertel dat Nicole 'n werklike verskil en invloed op hulle lewens gehad het. "Sy het haar vlerke nou verruil vir engelvlerke."
Nicole word oorleef deur haar ouers, Nico en Alicia Mienie en suster Carmen Mienie, wat binne die volgende maand in die huwelik gaan tree.
Oudtshoorn Courant het die familie gekontak en respekteer die feit dat hulle vir eers nie oproepe van die media wil neem nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'