OUDTSHOORN NUUS - Inwoners van die Groter Oudtshoorn word dringend daarop gewys dat die munisipaliteit met onmiddelike effek, weer vlak-4 waterberkings instel.
Aurelia Oliphant, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit het Dinsdag ‘n veklaring uitgereik om die beperkings aan te kondig.
Die vlak van die Raubenheimer dam het die afgelope week gedaal tot onder 60% nadat dit in 2020 op 77% gestaan het.
Die ondergemiddelde reënval die afgelope drie maande sowel as die hoë temperature wat verhoogde verdamping asook hoër watergebruik tot gevolg gehad het, het daartoe gelei dat die damvlak vining daal.
“Ongeveer 50mm reën is die afgelope drie maande gemeet teenoor die gemiddeld wat normaalweg in die omgewing van 100mm beloop. Die paar donderstorms het ongelukkig ook die opvangsgebied gemis,” sê Oliphant.
Die daling in die damvlak word verder vererger deur die verpligte waterloslating vir landbou doeleindes vanaf Desember tot Maart elke jaar.
Die vergunnings wat einde verlede jaar gemaak is, word met onmiddelike effek teruggetrek. Geen tuine mag meer besproei word nie en geen swembaddens mag gevul word nie.
Oliphant waarsku ook dat noodtariewe weer ingestel sal word indien die damvlak onder 50% daal.
“Die gemeenskap word vriendelik versoek om gehoor te gee en waterbesparing ernstig op te neem. Sou daar binnekort goeie reën wees en die dam beduidend styg, sal die beperkings onmiddelik hesien word. Inwoners word egter daarop gewys dat oortreding van die beperkings strafbaar is met ‘n R1000 boete.”
•Die volledige bepalings van Vlak-4 waterbeperkings is aangevra en sal geplaas word sodra ons dit ontvang.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'