OUDTSHOORN NUUS - Die onlangse droogte en waterbeperkings wat vir jare in die groter Oudtshoorn-distrik gewoed het is nog vars in die geheue van Oudtshoorniete.
Waterbeperkings is wel aan die einde van 2021 na 'n goeie reënval, gelig - maar dit blyk dat die kort periode van verligting net van korte duur was.
Die Oudtshoorn-munisipaliteit het in 'n onlangse mediaverklaring gewaarsku dat inwoners van die Oudtshoorn-distrik water spaarsamig moet gebruik om nog 'n waterbeperking te verhoed.
Hierdie waarskuwing is uitgereik nadat die Raubenheimerdam onlangs onder 80% kapasiteit gesak het.
Volgens die munisipaliteit word daar ook geen reën voorspel om die dam te op te vul nie - en sê Hannes Visser, woordvoerder van die burgemeester se kantoor, dat die onlangse reën geen verskil aan die Raubenheimberdam se watervlak gemaak het nie.
Groter Oudtshoorn-distrik dalk binnekort op vlak 4B waterbeperking:
Visser verduidelik ook dat vlak 4B-waterbeperkings dalk binnekort in Oudtshoorn geïmplementeer gaan word - die voorspelling is dat die Raubenheimerdam se watervlak binnekort onder 75% gaan sak indien dit nie reën in daardie opvangs gebied nie.
"Die onlangse reën in De Rust en omgewing het glad nie bygedra tot die Raubenheimerdam se watervlak nie."
Die volgende waterbeperkings tree in werking wanneer die Raubenheimerdam se watervlak sak:
Onder 75% - vlak 4B waterbeperkings
Onder 60% - vlak 5 waterbeperkings
Onder 50% - vlak 6 waterbeperkings
Die volgende reëls is van toepassing op vlak 4B-waterbeperking:
• 'n Tuinslang mag nie gebruik word om 'n voertuig met munisipale drinkwater te was nie. 'n Emmer water mag wel gebruik word.
• Geen plaveisel of geteerde oppervlak en strukture mag met munisipale drinkwater, met 'n tuinslang skoongespuit word nie.
• Toestemming moet by die tegniese departement verkry word wanneer 'n konstruksie met munisipale drinkwater gebou word.
• Tuine wat met munisipale drinkwater natgespuit word mag sleg tussen 06:00 tot 08:00 en 18:00 tot 20:00 gespuit word. Huise met 'n ewe nommer mag op Maandae en Donderdae en huise met 'n onewe nommer mag op 'n Dinsdag en Vrydag hulle tuine natspuit.
(Opvul van privaat swembaddens met munisipale drinkwater is toegelaat hetsy die swembad met 'n soliede swembadbedekking (wat waterverdamping verhoed) bedek is en water wat gebruik word om die swembad skoon te maak, waar moontlik, herwin kan word.
Oudtshoorn-burgemeester Chris Macpherson, rig 'n dringende beroep op inwoners om water spaarsamig te gebruik en die waterbeperkings na te kom.
"Water is lewe, ons kan nie aangaan asof daar nie 'n môre is nie."
Die munisipaliteit waarsku ook dat die oortreding van bogenoemde beperkings met 'n boete deur 'n regsbeampte uitgereik sal word.
De Rust, Dysselsdorp en dele van die Klein-Karoo Landelike Waterskema onder vlak 6-waterbeperkings:
Die verligting van waterbeperkings is ongelukkig nie vir areas soos Dysselsdorp, De Rust en dele van die Klein-Karoo Landelike Waterskema beskore nie. Dit is omdat hierdie areas afhanklik is van die Klein-Karoo Landelike Waterskema se boorgate om water te verkry. Die druk waaronder die boorgate al vir 'n geruime tyd verkeer omdat die aanvraag hoër is as wat die pompe kan voorsien, word ook nie verbeter met die beurtkragskedule nie.
Oudtshoorn Courant lewer weekliks inligting rakende die watervlak van die Raubenheimerdam en reënval op die voorblad.
Gaan na dié skakel vir meer inligting rakende die waterbeperkings se verskillende reëls en kennisgewing van die Oudtshoorn-munisipaliteit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'