OUDTSHOORN NUUS - Die vinnige optrede van lede van die provinsiale verkeersafdeling het Sondag voornemende straatrenjaers se planne in die wiele gery.
Volgens inligting het 'n lid van die publiek die verkeersdepartement Sondag ingelig dat 'n hele aantal motors besig was om naby Volmoed te vergader om resies te jaag.
Drie van die provinsiale verkeersafdeling se nuwe kragtige Golf GTI patrolliemotors is onmiddellik na die toneel gestuur. Dit blyk dat hulle aankoms die voornemende renjaers se planne gekortwiek het. Dit is nie bekend of daar reeds wedrenne plaasgevind het voordat die verkeersbeamptes opgedaag het nie.
Onwettige straatwedrenne was op 'n stadium 'n groot probleem op hoofpaaie rondom Oudtshoorn en veral op die pad na Volmoed asook die pad tussen die dorp en Safari-volstruisplaas.
'n Aantal jare gelede het 'n inwoner van Oudtshoorn sy lewe verloor toe sy motor reg van voor deur een van twee motors getref is wat op die Safari-pad vermoedelik in 'n wedren betrokke was.
Wedrenne gebeur ook soms spontaan in die dorp tussen heethoofdige bestuurders. In een so 'n wedren is twee onskuldige motoriste se voertuie 'n aantal maande gelede in Voortrekkerweg getref toe twee motors volgens ooggetuies resies gejaag het. Een van die jaers se motor het na die botsing in die middel van die pad op sy dak te lande gekom. Die bestuurder is per ambulans hospitaal toe geneem. Die twee voertuie wat getref is, was langs die straat geparkeer terwyl die bestuurders inkopies gedoen het.
'n Navraag oor Sondag se voorval is Dinsdag aan die woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van vervoer gestuur.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'