OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-perde-uithourit wat vir die eerste keer in 2012 aangebied is, is die afgelope naweek vir die vierde keer by Berluda-gastehuis by Schoemanshoek gehou. Altesaam 70 ruiters van verskeie plekke in die Wes- en Oos-Kaap het Vrydag en Saterdag aan die 40 km- en 80 km-uithouritte deelgeneem.
Nico du Bois, wat 'n jaar gelede in 'n motorongeluk gesterf het, het die eerste Oudtshoorn-uithourit in 2012 gereël.
Vanjaar se uithourit is aangebied deur Berluda, die titelborg, asook die Garden Route Perde-uithouritklub, die Oudtshoorn-munisipaliteit, Suid-Kaap Finansiële Dienste, Karoo Lusern, Klein Karoo Toyota, Trailrider Saddles en ander vennoot-borgskappe.
Vrydag se ritte het om 10:00 weggespring terwyl Saterdag se ruiters om 06:30 en 07:00 weggespring het. Die ritte is oor twee dae aangebied om ruiters wat meer as een perd het die geleentheid te gee om al die perde te laat deelneem.
Drie veeartse, drs. Adriaan Olivier van Oudtshoorn, Llewellyn Hon van Swellendam, en Pierre du Bruyn van Stilbaai het die perde vooraf en gedurende die uithouritte ondersoek.
"Die ruiters ry 40 km, keer terug en laat die perde afkoel en moet binne 20 minute by 'n veearts aanmeld sodat die perde ondersoek kan word," het Antoinette van der Walt, ritmeester (skeidsregter) van Worcester verduidelik. "Dan rus die perde vir 45 minute, voordat hulle die volgende 20 km aanpak.
Hulle moet binne 30 minute by die veearts aanmeld sodat die perd weer ondersoek kan word, en rus dan weer 45 minute voordat hulle op die laaste been van 20 km vertrek."
Die gemiddelde spoed vir beginners is sowat 16 km per uur, maar gesoute ruiters kan heelwat vinniger ry.
Antoinette van der Walt (ritmeester), Elardus Behrens (tydhouer) en Lizel de Waal, gasvrou van die geleentheid. Foto's: Tisha Steyn
Die perde word vooraf, gedurende die rusperiodes en na die rit ondersoek om seker te maak hulle word nie beseer of onnodig uitgeput nie.
Volgens dr. Hon is dit die ruiter se verantwoordelikheid om seker te maak die perd kry die regte voeding, veral op 'n moeilike harde en droë roete soos hierdie.
Ruiters het in die volgende kategorieë deelgeneem: Dagruiters (slegs 40 km), kinderruiters (vergesel van 'n senior ruiter), junior ruiter (o.18), liggewig (73 kg of ligter), standaardgewig (74 kg tot 94 kg) en swaargewig (95 kg+).
Die hoofkompetisie Saterdag was die Garden Route 80 km-uitdaagren. Om die speelveld gelyk te maak, word die liggewig-ruiters met 6% stadiger spoed gepenaliseer, terwyl die swaargewigruiters met 6% spoed toegegee word. Die wenners in die gewigsafdelings is Joubert Sambo (lig), Mabeth Cilliers (standaard) en Ernst Neethling (swaar).
Die organiseerders, met Lizél de Waal as gasvrou, het soos elke jaar, Vrydagmiddag 60 inwoners van Bellinganhof, Gottland Huis, Tuishuis, Coronation Huis, Eljada (junior en senior), die Klein Karoo Vaardigheidskool en Huis Triomf trakteer met eet- en drinkgoed, 'n bederfpakkie en 'n perderit.
Die drie wenners van die 80 km-uithourit is, van links: Joubert Sambo (liggewig), Embeth Cilliers (middelgewig) en Ernst Neethling (swaargewig).
Die prysuitdeling het Saterdag om 16:00 plaasgevind, waartydens die prysgeld en gelukstrekkings uitgedeel is.
Volgens De Waal probeer baie van die deelnemers aan uithouritte deelneem wat na Meimaand plaasvind om te kwalifiseer vir die jaarlikse Fauresmith-uithourit wat gewoonlik die eerste week in Julie plaasvind.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'