DE RUST NUUS - Die saak teen drie mans en 'n jeugdige van De Rust wat daarvan aangekla word dat hulle 'n vrou en haar broer in 'n plaashuis buite De Rust met messe gedreig en beroof het, is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof tot 18 Julie uitgestel omdat die jeugdige nie by die hof was nie. 'n Lasbrief vir sy arrestasie is gelas.
Die staat beweer dat Niklaas Witbooi (23), Jason Jantjies (24), Joseph Jantjies (18) en 'n 16-jarige jeugdige wat in die sorg van sy pa geplaas is, op Maandag 8 Januarie by die plaashuis ingebars het nadat die eienaar vertrek het om werkers huis toe te neem.
Hulle word aangekla van roof met verswarende omstandighede.
Die vier het die huis geplunder, geld geëis en met fietse, 'n skootrekenaar, selfoon, kontant en juwele op die vlug geslaan. Feitlik al die items is egter kort daarna deur die polisie teruggevind.
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Klein Karoo nuus'