OUDTSHOORN NUUS - Wanneer vier Afrikaanse digters mekaar op een naweeksmiddag op 'n dorpie in die middel van die Karoo raakloop, weet jy: Die skeppingskrag en poësie van dié beleërde taal lééf!
Die geleentheid was die bekendstelling van Hannes Visser van Oudtshoorn se debuutdigbundel, Die jaar toe pa … , verlede Saterdagmiddag by Die Windpomp op die Prins Albert-skouterrein.
Die gespreksleier was die digter en vertaler Daniël Hugo van Prins Albert, Visser se redakteur, met die sangeres en kitaarspeler Marisca Rain (ook van Oudtshoorn) wat klank by die woord gevoeg het.
Wat Visser nié voor die tyd geweet het nie, is dat een van sy mededigters vanjaar by Naledi, Willem S van der Merwe van Somerset-Wes, Saterdagoggend spesiaal uit die Kaap Prins Albert toe gery het toe hy van die geleentheid te hore gekom het.
Van der Merwe se tweede digbundel, Nuwe vrese, is gisteraand (Donderdag 30 Mei) in Stellenbosch bekendgestel. Hy het in 1985 gedebuteer met Son-dig.
Die vier digters is, van links: Francois de Jongh, Willem S van der Merwe, Daniël Hugo en Hannes Visser. Foto: Marlene Malan
Nie een van die drie was egter voorbereid op die verskyning van 'n vierde digter, Francois de Jongh van Gansbaai, wie se debuutwerk, Klipsweet, in 1981 verskyn het – toevallig dieselfde jaar as waarin Hugo gedebuteer het as Daan van der Merwe met Saad uit die septer.
De Jongh, ook 'n koerantman, was langer as twintig jaar redakteur van die Gansbaai Courant.
Hugo en Van der Merwe het mekaar weer in die jare tagtig leer ken toe hulle saam by RSG in Seepunt gewerk het – Hugo as redakteur van literêre programme en Van der Merwe as klankman. Van der Merwe is ook 'n gerekende foto- en videograaf.
Die bekendstelling van Die jaar toe pa … was die eerste van 'n reeks kwartaallikse kultuurbyeenkomste wat deur die nuwe Afrikaanse privaat skool in Prins Albert, Christen Akademie, gereël is.
Verskeie gaste het gesê so 'n gereelde kultuurkuier is broodnodig in Prins Albert. Volgens 'n onderwyser van Christen Akademie, Jakoba Visagie, "was dit onvergeetlik", en Christelle Smit, onderwyser by die Hoërskool Zwartberg, het dit as "verrykend" bestempel.
Die jaar toe pa … se Stellenbosse bekendstelling is môreoggend om 11-uur by Protea-boekwinkel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'