Update
OUDTSHOORN NUUS - Vier inwoners van Coronation Memorial-versorgingsoord vir bejaardes het in April uitsettingsbriewe van die huidige bestuur onder voorsitterskap van Charles Basson ontvang.
Personeel van Coronation was Dinsdag warm onder die kraag hieroor en het met die media gepraat oor hul ontevredenheid met die huidige bestuur van die tehuis.
Een van die inwoners het die uitsettingsbrief aan die Oudtshoorn Courant gewys.
Volgens die brief word hulle weens oproerige gedrag en inmenging in administrasie uitgesit. Volgens die brief het die inwoner gepoog om een van die administratiewe beamptes toegang tot die tehuis te weier deur fisies haar kantoor te versper. Die brief sê ook dat die inwoner vermanings van bestuur verontagsaam en inwoners beïnvloed om bestuur te minag. Die inwoners moet teen 1 Junie die tehuis verlaat.
Volgens die inwoner is daar lede van die publiek wat hulle help met die kwessie en het die huiskomitee 'n brief saamgestel waarin hulle sê dat die uitsetting onwettig is en dat hulle nie van plan is om die tehuis te verlaat sonder 'n hofbevel of 'n onpartydige verhoor nie.
"Die brief gaan aan maatskaplike dienste oorhandig word," het sy gesê.
Volgens een van die verpleërs behandel die bestuur die inwoners verkeerd.
"Die oord is besig om agteruit te boer. Van wanneer af kan bejaardes uit 'n plek van versorging gesit word? Desembermaand was ons krag af en moes die huiskomitee gas en toiletpapier uit hulle sakke koop omdat die bestuur nie gesorg het dat daar genoeg is nie. Ons landlyne is van Maandag af reeds af omdat die rekening nie betaal is nie. Ons kan vir geen noodgeval uitbel nie. Wat maak ons as hier 'n brand is of 'n ambulans is nodig? Ons moes Maandagaand een van die inwoners op suurstof sit en nie een van die suurstofmasjiene het gewerk nie."
Volgens haar moes van die inwoners ook self linne vir hul beddens koop omdat daar glo gesê is dat daar nie geld is vir dit nie.
Die verpleegster wat met die Oudtshoorn Courant gepraat het sê hul vorige bestuurder, Clive Veldsman, is 'n ruk gelede deur die bestuurskomitee onder voorsitterskap van Charles Basson geskors en daar is 'n interdik teen hom bekom sodat hy nie die terrein kan betree nie.
Die Oudtshoorn Courant het reeds November verlede jaar berig oor die voortslepende onmin tussen die bestuur en die beheerliggaam van Coronation en die negatiewe invloed wat dit op die sorg van die inwoners het. Volgens die verpleër was daar glo opdrag gegee dat 'n algemene jaarvergadering in September verlede jaar gehou moes word sodat 'n nuwe bestuur gekies kan word.
Daar is egter nog geen vergadering gehou nie.
Die koerant het verskeie pogings aangewend om Basson om kommentaar te nader, maar hy het tot dusver nie reageer nie.
Lees 'n vorige artikel: Coronation-bestuur stamp steeds kop
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'