OUDTSHOORN NUUS - Personeel van Coronation Memorial tehuis vir bejaardes het vanmiddag met die media gepraat oor hul ontevredenheid met die huidige bestuur van die tehuis.
Volgens een van die verpleërs het vier inwoners ongeveer 'n week gelede uitsettingsbriewe ontvang. Sy het dit duidelik gestel dat daar geen staking is nie en dat die inwoners steeds versorg word, maar dat hulle as personeel "nie langer kan toekyk hoe die inwoners behandel word nie".
"Waarheen moet die mensies gaan? Dit is nie reg om hulle net op straat uit te sit nie."
Die verpleegster sê verder dat hulle sedert gister sonder landlyne sit omdat die rekening glo nie betaal is nie.
"Ons kan vir geen noodgeval uitbel nie. Wat maak ons as hier 'n brand is of 'n ambulans is nodig. Ons moes gisteraand een van die inwoners op suurstof sit en nie een van die suurstofmasjiene het gewerk nie."
Volgens haar moes van die inwoners ook self linne vir hul beddens koop omdat daar glo gesê is dat daar nie geld is vir dit nie.
Die verpleegster wat met die Oudtshoorn Courant gepraat het sê hul vorige bestuurder, Clive Veldsman, is 'n ruk gelede deur die bestuurskomitee onder voositterskap van Charles Basson geskors en daar is 'n interdik teen hom bekom sodat hy nie die terrein kan betree nie. Sover vasgestel kan word is die uitsettingsbriewe deur Basson se kommitee uitgereik. Die koerant het probeer om Basson in die hande te kry, maar hy het nog nie reageer nie.
Volgens die verpleër soek hulle 'n nuwe bestuur.
"Daar is opdrag gegee dat 'n algemene jaarvergadering reeds in September verlede jaar gehou moes word sodat 'n nuwe bestuur gekies kan word. Dis al Aprilmaand en daar is nog geen vergadering gehou nie."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'