OUDTSHOORN NUUS - Dit blyk dat die inisiatief van die Kunstevriende van Oudtshoorn om hoofsaaklik klassieke musiek in Oudtshoorn aan te bied 'n uiters gewilde een is.
Tussen 70 en 80 gaste het Saterdagaand se kabaretvertoning van Niël Rademan (klavier en sang) en Lucas Heinen (klavier en trekklavier) bygewoon.
Saterdagaand se vertoning was die sewende vertoning wat vanjaar deur die Kunstevriende by die Ostrich Emporium aangebied is. Rademan het onder andere musiek van Chrsita Steyn, Koos kombuis, Koos du Plessis en Johannes Kerkorrel by die kabaretvertoning ingesluit. Soms was hy agter die klavier met Heinen op die trekklavier en soms het Heinen agter die klawers ingeskuif om 'n sangsolo te begelei.
Dat die twee se vertoning puik was, is bewys toe die gaste hulle staande toegejuig het en vir 'n toegif gevra het. Volgens Antoinette le Roux, wat vir die reëlings verantwoordelik is, is vanjaar se laaste vertoning 'n orreluitvoering Dinsdagaand 11 Desember.
Die eerste vertoning van 2019 word vir die einde van Januarie beplan. Daar word beoog om ten minste een keer per maand 'n vertoning aan te bied behalwe in April en Augsutus wanneer die KKNK en Klein Karoo Klassique plaasvind. Een van die hoogtepunte wat vir volgende jaar beplan word is 'n vertoning van die bekende violis, Zanta Hofmeyer in Meimaand.
Vir meer inligting oor die Kunstevriende van Oudtshoorn kontak Antoinette by 084 567 1030.
Gaste tydens Saterdagaand se vertoning by die Ostrich Emporium. Foto's: Hannes Visser.
Niël Rademan voor die klavier en Lucas Heinen tydens die vertoning.
"Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus."