OUDTSHOORN NUUS - Tussen vyf en sewe gesinne het die dakke oor hulle koppe in twee brande die afgelope naweek verloor.
Die brande het op drie aangrensende erwe tussen Dahliahof en Malvahof in Bridgton uitgebreek.
In die eerste brand wat Saterdagmiddag uitgebreek het is twee opslaanstrukture verwoes.
Die brand is geblus en die munisipaliteit het onderneem om die volgende dag materiaal af te laai sodat die twee gesinne 'n ander skuiling kon opslaan.
Om ongeveer 03:30 Sondagoggend het nog 'n brand op 'n aangrensende erf uitgebreek.
Volgens een van die inwoners, Daniël Esau, het hulle die vlamme gesien en onmiddellik alarm gemaak sodat mense die strukture kon ontruim.
Die brand het blitsvinnig versprei en sewe opslaanstrukture, waarvan een as 'n kerk gebruik is, verswelg.
Die hoop rommel links van die groep was voor die brand 'n opslaankerkie.
Volgens Esau is drie persone tydens die brand beseer en hospitaal toe geneem. Jayden Avontuur, Eduard Moolman en Denver Avontuur is volgens hom Sondagmiddag weer ontslaan. 'n Vierde persoon, Kenneth Kennedy, is volgens Esau Sondag beseer toe hy met opruiming gehelp het en 'n sinkplaat sy pols oopgesny het.
Hy is na die George-hospitaal oorgeplaas waar hy glo 'n operasie sou ondergaan.
'n Groot hond, waarskynlik 'n Rottweiler, is tydens die brand dood toe hy verbouereerd geraak het en skuiling gaan soek het. Die struktuur het meegegee en die dak het op hom geval.
Volgens een van die inwoners is daar 'n sterk vermoede dat die twee brande kwaadwillig deur iemand gestig is.
Volgens kapt. Louis Visser, kommunikasiebeampte van die Oudtshoorn-polisie, word daar egter geen klag van brandstigting ondersoek nie.
Mense wat navraag gedoen het om hulp te verleen is na die munisipaliteit verwys.
Volwassenes en kinders het Sondagoggend begin om die terrein op te ruim en bruikbare sinkplate herwin.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'