OUDTSHOORN NUUS - Die eienaars van Wes-Handelshuis, Camp Roadhouse en Camp Bakery is Dinsdag deur personeel verras met 'n impromptu verjaarsdag-partytjie.
Jaco Vorster en Johan van Heerden het 'n afskeidsfunksie vir hulle kontroleerder, Teresa Lombaard, gereël. Sy was meer as vyf jaar by Wes-Handelshuis en het 'n ander pos in die dorp aanvaar. Terwyl hulle Teresa se afskeid gereël het, het personeel gekonkel om die twee geluk te wens met hulle oorname van die besighede vier jaar gelede.
Die personeel het verskeie klante genooi en almal tot stilte gesweer oor die koeke wat gebak is en die verjaarsdagvieringe wat wag.
Jaco en Johan het vier jaar gelede op 1 Augustus die drie besighede oorgeneem en intussen groot uitbreidings aangebring. Dinsdag se partytjie was juis in die nuutste toevoeging tot Wes-Handelshuis, die koffiewinkel en deli, Cafe-de-move-on. Die naam is hergebore nadat die oorspronklike eienaars van Camp Roadhouse dit in 1941 gebruik het.
Johan van Heerden (links agter) en Jaco Vorster met die verjaarsdagkoeke waarmee die personeel hulle verras het. Regs van Jaco is Teresa Lombaard vir wie 'n afskeidsgeleentheid gereël is. Rochell Moos (voor, tweede van links) en Robin Kemmies (heel regs) het die verversings in Camp Bakery se kombuis voorberei.
(Lees volgende Vrydag meer oor die geskiedenis van Cafe-de-move-on en 'n verskyning op die ontbytprogram Ontbytsake op Saterdag 12 Augustus)
ARTIKEL & FOTO: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'