OUDTSHOORN NUUS - Twee vermeende vandale is verlede Donderdag by Oudtshoorn se gholfbaan op heterdaad betrap terwyl hulle besig was om sirkels op die 12de putjie se grasperk met hul rooi Nissan Sentra maak.
Volgens 'n ooggetuie en lid van die Oudtshoorn-gholfklub het hy en sy oefenmaat die betrokke dag by die eendjiedam afgeslaan toe hulle die insident sien.
"Dit was vir my die vreemdste ding ooit. Die bestuurder het seker tien keer doodluiters oor die grasperk gery terwyl die passasier iets aan hom verduidelik. Vir my wou dit voorkom of hy die persoon leer bestuur. My eerste instink was om dadelik die Oudtshoorn-gholfklub se bestuur te kontak omdat dit onaanvaarbaar is dat ons mooie gholfbaan so beskadig word. As opbetaalde lid voel ek betaal ons ten duurste sodat die baan in stand gehou kan word en dan kom barbare soos hierdie en verniel alles. Hierdie tipe van voorvalle vind nie op ander bane plaas waar ek al gespeel het nie, net by ons."
In reaksie op dié voorval het die Oudtshoorn-gholfklub se bestuur gesê dat hulle die voorval veroordeel. " Dis onaanvaarbaar dat vandale Oudtshoorn se trotse gholfbaan so afbreek. Watter genot put hulle daaruit? Ons sit op die oomblik met 'n helse probleem omdat toegang nie beperk word nie as gevolg van heinings wat eenvoudig net afgebreek word. Die situasie met Hopeville se inwoners wat direk langs die gholfbaan woon help ook nie veel nie. Op die einde van die dag kan ons net hoop dat die Oudtshoorn-munisipaliteit na ons pleidooie sal luister en hulp verskaf sodat ons die gholfbaan in sy volle totaliteit ordentlik kan omhein. As bestuur moet ons ook 'n pluimpie gee vir die Oudtshoorn-polisie se sektor 2 lede wat baie vinnig op die toneel was."
Die buiteband merke is duidelik sigbaar op die grasperk. Foto's verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'