OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen die vermeende moordenaar van ‘n 60-jarige man van Bloupunt, Dysselsdorp, is Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof tot 22 Februarie uitgestel nadat hy die mandaat van sy regshulpprokureur beëindig het en die hof meegedeel het dat hy sy eie verdediging sal behartig.
Die 47-jarige Fransisco (Frank) Erasmus van George staan tereg op aanklag van moord op Abraham Herandien wie se liggaam met verskeie steekwonde op Dinsdag 21 Maart 2023 deur verkeersbeamptes in Erasmus se motor gevind is.
Erasmus plaas die blaam vir Herandien se dood op die verkeersbeamptes wat hom die betrokke dag op die De Rust-pad gestop en verhoed het dat hy Herandien by ‘n hospitaal kry.
Erasmus het op ‘n vraag van die hof gesê hoewel hy nie oor enige regskennis beskik nie, dit sy grondwetlike reg is om homself te verdedig. Volgens hom is hy onskuldig. Volgens die staatsaanklaer, Hyron Goulding, word gewag op ‘n beslissing van die direkteur van openbare vervolging (DOV) of die saak na die hooggeregshof oorgeplaas moet word of nie.
Streeklanddros Ntsoki Moni het die saak daarna vir afskrifte van die dossier uitgestel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’