OUDTSHOORN NUUS - ’n Man van Oudtshoorn wat teregstaan op aanklag van moord het Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof 'n versoek tot die hof gerig dat hy twee assessore vir sy verhoor verlang.
Andrew Blaauw (27) word van moord op ’n 17-jarige aangekla.
Die staat sowel as die verdediging was gereed om met die verhoor te begin toe Blaauw onverwags sy regshulpprokureur, Wenzel Botha, versoek het om die hof vir twee assessore te vra.
Streeklanddros Ntsoki Moni, het aan Blaauw verduidelik dat assessore lede vanuit die gemeenskap is wat nie oor enige regskennis beskik nie en dit moontlik tot sy nadeel kan strek.
Hy het egter volgehou dat hy twee assessore verlang om die landdros by te staan.
Die landdros het daarna gesê dat dit sy reg is, en die saak tot 27 Mei uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'