DE RUST NUUS - Die vrou wat glo 'n man van 75 Sondagoggend in De Rust met 'n kapmes aangeval het, verskyn môre in die hof op 'n klag van poging tot moord.
Volgens die jongste inligting wat vandag ontvang is, is die man in die kombuis van sy huis in Hoopstraat aangeval nadat die vrou wederegtelik toegang tot die huis gekry het.
Die man het die agterdeur omstreeks 07:00 oopgesluit en tuin toe gegaan terwyl sy vrou in 'n ander vertrek was. Toe hy die huis weer binnegaan het die aanvaller wat skynbaar intussen in die huis ingeglip het, hom in die kombuis met 'n kapmes aangeval. Sy vrou het die geraas gehoor en ondersoek ingestel en haar man vol bloed aangetref.
Hulle het die aanvaller herken as 'n vrou wat bykans 'n jaar gelede vir twee dae by hulle gewerk het. Die man is ook met 'n bottel oor die kop geslaan en het veelvuldige hoofbeserings en ernstige beserings aan sy arms opgedoen.
Die aanvaller het na die aanval uitgestap en die kapmes in die kombuis agtergelaat.
Die beweerde aanvaller wat in Blomnek woon, se identiteit sal bekend gemaak word as sy in die hof verskyn het.
VORIGE ARTIKEL | Bejaarde met kapmes aangeval
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Klein Karoo nuus'