DE RUST NUUS - 'n Bejaarde inwoner van De Rust is vroeër vandag na 'n hospitaal op Oudtshoorn geneem nadat hy na bewering deur 'n vorige werknemer met 'n kapmes aangeval is.
Volgens kapt Malcolm Pojie, kommunikasiebeampte van die SAPD in die Suid-Kaap, is lede van die De Rust-polisie vanoggend omstreeks 07:45 na 'n woning in Hoopstraat ontbied.
Hulle het die bejaarde man met oop wonde aan sy arms aangetref. Na bewering is die verdagte 'n vrou van Blomnek wat voorheen vir die bejaarde egpaar gewerk het.
Sy het glo vanoggend by hulle huis opgedaag en geld geëis vir dienste wat sy glo gelewer het. Sy het die man toe glo met 'n kapmes wat sy in die werf gekry het, aangeval.
Die man is hospitaal toe vir mediese behandeling en het aan polisie gesê hy sal 'n formele klag lê sodra hy mediese behandeling ontvang het. Met navrae van die Oudtshoorn Courant was die klag nog nie gelê nie.
Volgens Pojie sal 'n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer geopen word vir verdere ondersoek sodra die slagoffer behandel is.
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Klein Karoo nuus'