TUINROETE NUUS - Abrie de Swardt, een van SWD-atletiek se groot geeste, is verlede Saterdag onverwags in die ouderdom van 70 jaar oorlede.
De Swardt, 'n gebore Georgiet, het die betrokke middag 'n funksie van die Kwagga Trust by Hoërskool Outeniqua bygewoon waartydens hy begin sleg voel en inmekaargesak het. Hy is later op die toneel dood verklaar.
Op Oudtshoorn het Dave van der Walt (operasionele bestuurder van SA tweekamp) en 'n paar vriende vandeesweek besluit om by De Swardt se gunsteling restaurant koffie te drink ter nagedagtenis aan hom.
De Swardt het gedurende sy roemryke sportloopbaan aan verskillende sportorganisasies behoort waaronder president van Atletiek Suid-Westelike Distrikte (ASWD), Eden-sportraad (uitvoerende raadslid), Eden en Wes-Kaap afrigtingskommissie en Eden-sportakademie (bestuurder).
Hy was onder andere ook 'n geakrediteerde middelafstand- afrigter van die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies en tydens die Olimpiese Spele in 2004 (Athene) was hy ook deel van SA atletiek se afrigtingskorps.
Van der Walt vertel dat hy en De Swardt mekaar meer as 50 jaar gelede by die Universiteit van Stellenbosch ontmoet het.
"Reeds toe was sy omgee-geaardheid vir my opvallend. So het hy ook baie bekende plaaslike atlete soos Elana Meyer (silwermedalje tydens 1992 se Olimpiese spele in Barcelona Spanje) bygestaan en gemotiveer.
Ek sal hom onthou as iemand wat sy lewe vir sport gegee het."
Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van kultuur en sport, het ook haar meegevoel uitgespreek met die afsterwe van De Swardt. Volgens haar sal hy gemis word, maar sy nalatenskap dien as inspirasie vir baie jong atlete van die toekoms.
De Swardt word oorleef deur sy vrou, Sharon en twee seuns, Abrie en Martin.
'n Groepie Oudtshoorniete het vanoggend by wyle Abrie de Swardt se gunsteling restaurant koffie gedrink ter nagedagtenis aan hom. Van links is Jean Neethling, Dave van der Walt, Corné Bence, Nico Ungerer, Toy Ungerer, Stephnie McKay en Albertus Kennedy. Foto verskaf
Van der Walt het De Swardt se nalatenskap met dié gedig beskryf:
Abrie de Swardt
mens en afrigter met 'n hart
jou gryse kennis
raak al wat mens is
jou sagte hart
keer baie se smart
jou ondersteuning
kom sonder enige kreuning………
oor die wêreld heen word jy ge-eer
as atletiekmens, sportkennisdraer van weleer
IAAF se Afrika-afrigter
menige vereniging se stigter
leier by uitstek
verdien die nodige respek
in die Suid-Afrika het jy gewoel
en mense gevoeg tot die sportpoel
soms sonder vergoeding en erkenning
en daarvoor verdien jy 'n penning……
jou liefde vir jou gesin
het baie van ons laat besin
Sharon, Abrie junior en Martin
dankie dat julle Abrie vir so lank aan die wêreld wou gun
om sy passie en Godgegewe taak te volbring
sy liefde vir si alma mater
sy koue humorsin, het almal laat skater
sy gedienstigheid vir SWD, EDEN en Wes-Kaap
kon mens maar net vergaap…..
Soms word 'n profeet nie in eie land ge-eer
En dit maak sekerlik baie seer
Abrie, wees verseker dat ons jou sal eer
En dat ons nog vir lank jou kennis sal begeer
Ek groet 'n vriend, mentor, kollega, mede-afrigter en administrateur van meer as 50 jaar
Stellenbosch, Bloemfontein, Goudstad roep groot herinneringe op
maar dit het nou ook verjaar………
die Hemel benodig 'n afrigter van mense om daardie veld te hark
en daarvoor roep die Here vir Abrie de Swardt………
Rus in Vrede
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo nuus'