LADISMITH NUUS - 'n Man van 'n plaas in die Ladismith-distrik, wat aan verkragting skuldig bevind is, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof tot tien jaar gevangenisstraf gevonnis.
Nojean Stoffels (25) het 'n 48-jarige vrou onderweg na haar huis van agter gegryp en op die grond gegooi nadat hulle die betrokke dag saam gedrink het.
Streeklanddros Daniël Boks het Stoffels se optrede as skokkend beskryf.
"Hy het 'n vrou, wat sy ma kon gewees het, verkrag en toon geen berou nie. Wat verder verswarend is, is die feit dat hy in die lig van die Vigsepidemie nie 'n kondoom gebruik het, en ook 'n wapen by hom gehad het." Die vrou is erg getraumatiseer en het al daaraan gedink om selfmoord te pleeg omdat sy nie kan vergeet wat met haar gebeur het nie en mense haar snaaks aankyk. Die staatsaanklaer, adv. Michelle Weyers, het die hof versoek om nie af te wyk van die minimum vonnis van 15 jaar nie omdat die beskuldigde nie 'n eerste oortreder is nie.
Die landdros het egter in ag geneem, dat Stoffels nie die wapen gebruik het nie en nie soortgelyke vorige veroordelings op sy naam het nie. Hy het Stoffels tot tien jaar gevangenisstraf gevonnis en ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
Stoffels se regsverteenwoordiger het die hof om toestemming gevra om teen die skuldigbevinding en vonnis te appelleer, en die saak is daarvoor tot 18 Julie in die streekhof op Ladismith, uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'