OUDTSHOORN NUUS - Na 21 jaar as hoof van die provinsiale verkeer in die streek, en 40 jaar diens, lê Gerald Becker Vrydag die tuig neer.
Becker het in 1985, toe Oudtshoorn se provinsiale verkeersafdeling vir die eerste keer oopmaak, uit Mosselbaai by die span aangesluit.
Daar was toe net vier verkeersmanne. Daar is tans 22 provinsiale verkeersbeamptes op Oudtshoorn.
"Die laaste 40 jaar was lekker. Daar was moeilike tye en dit was nie altyd maklik nie, maar ek sal dit weer doen," sê Becker.
Becker sê verder daar is baie oomblikke as verkeersbeampte wat hom sal bybly.
"Daar was 'n massiewe busongeluk in 1986 in die Huisrivierpas waar 'n spoorwegbus omgeslaan het. Dit was regtig 'n gru-ongeluk. Dan is daar natuurlik Meiringspoort. Die honderde kere wat hy oorstroom het en ons in die middernagtelike ure gebel is en gaan diens doen het, maar dit was alles oor-en-oor die moeite werd.
"Wat ek wel geleer het is dat die lewe kort is en als kan in 'n oogwink verander. Moet niks as vanselfsprekend aanvaar nie en waardeer die mense rondom jou."
Becker sê hy is opgewonde oor sy aftrede.
"Ek en my vrou gaan bietjie ons eie land verken. Daar is so plekke om te besoek wat ons nog nie gesien het nie en graag wil sien."
Albert Nokole, 'n kollega wat meer as 20 jaar saam met Becker werk, sê Becker gaan definitief gemis word: "Ek en die Chief is deur baie in die klomp jare, maar hy was 'n goeie leier en gaan 'n groot leemte laat."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'