OUDTSHOORN NUUS - Nege van die verdagtes wat vir ondermeer bedrog en korrupsie in hegtenis geneem is, is vandag op borgtog van R5 000 elk vrygelaat.
Die verdagtes is Noloyizo Tose (38), Thabo Mgaba, Sandile Johnson (44), Warren Coetzee, Yolande Stalmeester (34), Phumezo Tshomiso (35), Samuel van Hansen, Promises Sovasi (39) en Xolile Gaya (39).
Almal het by monde van hul prokureurs aangedui dat hulle onskuldig gaan pleit.
Twee van die verdagtes, Ingrid Wagenaar en Ivan Human, is weens mediese redes op waarskuwing vrygelaat. Dus was die borgtogaansoek nie op hulle van toepassing nie, maar hulle moet wel aan die borgvoorwaardes wat deur die hof vasgestel is voldoen.
Brandon Smith, staatsaanklaer, het gesê dat, hoewel die klagtes ernstig is, gaan die staat nie borgtog teenstaan nie.
“Dit is nie in belang van geregtigheid om die verdagtes aan te hou nie. Die staat glo ook dat die hof die regte voorwaardes sal stel om te verseker dat die verdagtes die verhoor bywoon. Die staat is van mening dat die hulle nie sal vlug nie, en ook nie met die saak of die getuienis sal inmeng nie.”
Landdros Graehymme Williams het gesê korrupsie is tans ‘n reuseprobleem in die land, en gebeur so baie dat dit nou as normaal gesien word.
“Dit wil voorkom of die mense dié misdaad pleeg, omdat hulle weet hulle gaan in elkgeval op borgtog vrygelaat word. Ons moet dus nie toelaat dat iets wat abnormaal is, ‘n normaliteit word nie. Die saak gaan oor die nasie, nie net die munisipaliteit nie,” het hy gesê.
Adv. Benito Metembo, wat Tose, Human, Stalmeester, Sovasi en Van Hansen verteenwoordig, het gesê geen van sy kliënte is vlugrisiko’s nie en sal hulle hul verhoor bywoon. Hulle sal ook nie met die saak of getuies inmeng nie.
Hy het die verklarings van sy kliënte aan die hof voorgelees. Tose werk by Kwesta-bestuurskool en het twee kinders. Sy is ook sewe weke swanger. Sy het geen vorige veroordelings nie en geen sake teen haar nie. Sy het ook ‘n vaste adres in Oudtshoorn.
Stalmeester woon, volgens haar verklaring wat Metembo gelees het, in Dysselsdorp en sy is geskei. Sy werk al 10 jaar vir die munisipaliteit en verdien R20 000 per maand. Sy het geen vorige veroordelings of hangende sake nie.
Sovasi is ook by Kwesta betrokke, en is ook by die munisipaliteit werksaam. Hy woon ook op Oudtshoorn.
Volgens Van Hansen se verklaring werk hy by die munisipaliteit vir 15 jaar. Hy woon op Dysselsdorp en het vyf kinders en drie klein kinders waarvoor hy moet sorg. Hy het wel ‘n vorige veroordeling.
Adv. Zukile Nqulo, verteenwoordig Mgabo, Tshomiso en Gaya. Hy het ook aangevoer dat sy kliënte nie vlugrisiko’s nie en sal hulle hul verhoor bywoon. Hulle sal ook nie met die saak of getuies inmeng nie. Hy het ook sy kliënte se verklarings aan die hof voorgelees.
Mgabo het volgens hom ‘n adres in Oudtshoorn en George en het twee kinders en ‘n ma waarvoor hy sorg. Hy is betrokke by Emvovo-bestuurskool en het geen vorige veroordelings of hangende sake nie.
Thomiso het vyf kinders waarvoor hy sorg en het twee vorige veroordelings, een van huisbraak en een van dronkbestuur. Hy is ook by ‘n bestuurskool betrokke.
Gaya woon volgens sy verklaring in Mosselbaai by sy broer, is ‘n betrokke by ‘n bestuurskool en het geen vorige veroordelings nie.
Bulelani Jerome Bans verteenwoordig vir Warren Coetzee en Ingrid Wagenaar. Hy het Coetzee se verklaring in die hof voorgelees. Volgens die verklaring het Coetzee twee kinders en ‘n vrou en is hy ‘n alleen-broodwinner. Hy het ook twee broers.
Hy woon in Oudtshoorn en is vir etlike ‘n verkeersbeampte by die munisipale verkeersdepartement. Hy het geen vorige veroordelings nie en sal sy verhoor bywoon en word ook nie as ‘n vlugrisiko beskou nie.
Bradley Micheals tree vir Sandile Johnson op. Micheals het ook ‘n verklaring van sy kliënt voorgelees waarin staan dat Johnson ‘n instrukteur by Kwesta-bestuurskool is. Hy is ongetroud met een kind en kyk self na die kind. Hy sal sy verhoor bywoon en is nie ‘n vlugrisiko nie en het ‘n vaste adres in Oudtshoorn.
Landdros Williams het in sy uitspraak gesê dat dit in belang van geregtigheid is dat die verdagtes op borgtog vrygelaat word.
Almal behalwe Human en Wagenaar, wat weens mediese redes op waarskuwing uit is, is op borgtog van R5 000 vrygelaat. Volgens die borgtogvoorwaardes mag geen van die beskuldigdes by die munisipale verkeerskantoor kom nie en nie met getuies inmeng nie.
Hulle moet ook die ondersoekbeamptes laat weet indien hulle die Wes-Kaap sou verlaat. Wagenaar, Human, Coetzee, Stalmeester, Van Hansen en Gaya mag nie op die Natis-sisteem ingaan nie. Indien enige van die verdagtes persoonlike items by die verkeersdepartement het, moet hulle die ondersoekbeamptes kontak om hulle te help.
Die saak is na 29 April uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'