Update
BEAUFORT-WES NUUS - Die verhoor van vermeende veedief van Beaufort-Wes, wat teregstaan op ses aanklagte van veediefstal en drie van bedrog, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof met die getuienis van nog twee staatsgetuies voortgesit.
Reagan Adams, wat sy eie verdediging waarneem, word daarvan aangekla dat hy in 2018 by ses geleenthede meer as 115 skape van boere in die Prins Albert en Beaufort-Wes-omgewing gesteel het.
Hy het sy eie besigheid bedryf en die skape op verskeie boere se plase gaan oplaai met voertuie en sleepwaens wat hy gehuur het, en wanneer die eienaars nie tuis was nie.
Hy het dit daarna aan ander veeboere in die distrik verkoop.
Stoffel Devenish, ‘n plaaswerker van Slagterspoort, het getuig dat hy agter ‘n randjie naby ‘n skaapkraal weggekruip het nadat hy ‘n onbekende sleepwaentjie naby die skaapkraal sien staan het.
‘n Bakkie het later daar aangekom en hy het gesien hoedat die beskuldigde uit die bosse te voorskyn kom.
Adams het hierop geantwoord dat hy nie kan onthou dat hy daardie dag op Slagterspoort was nie en Devenish ‘n storie vertel wat vir hom voorgesê is.
Hy wou van Devenish weet watter klere hy aangehad het waarop die getuie nie kon antwoord nie.
“Dit is vreemd dat die getuie die kleur van die bakkie kan onthou, maar nie die kleur van my klere nie,” het Adams gesê.
Johan Maans van Katrivier het getuig dat hy Adams ken omdat hy op ‘n tyd saam met sy broer gewerk het.
Op Adams se versoek het hulle in 2017 ‘n besigheid geregistreer, maar hy het daarna niks weer van hom gehoor nie.
“Ek sou die grond beskikbaar stel, terwyl die beskuldigde die vee sou bring omdat ons met vee sou boer.”
Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni en Corné Pretorius is die aanklaer.
Vorige artikel: Borgtog weer geweier
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’