OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit se War on leaks-veldtog is in Augustus van stapel gestuur met advertensies waarin afgetrede of werklose loodgieters genader is om hulle dienste aan te bied. Die veldtog is begin om water te bespaar en die inwoners te help met die herstel van enige lekkasies.
Volgens Aurelia Oliphant, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, is die eerste fase van die veldtog voltooi. Gedurende hierdie fase is agt loodgieters tussen 19 September en 5 Oktober aangestel om lekkasies in deernishuishoudings te ondersoek en om vas te stel watter materiaal benodig word vir herstelwerk.
Die tweede fase begin op 5 November met herstelwerk by huise wat geïdentifiseer is.
"Oudtshoorn-munisipaliteit streef daarna om 'n responsiewe munisipaliteit te wees wat geleenthede vir sy gemeenskap skep deur verskaffing van innoverende, en doeltreffende dienste. Deur hierdie veldtog poog die munisipaliteit om 'n helpende hand uit te reik wat vir die inwoners en die munisipaliteit voordelig kan wees," het Oliphant in 'n persverklaring gesê.
Die agt loodgieters wat tans deel is van die War on leaks-projek is, van links: Tommy Brown, Dimitri Faku, Denver Avontuur, Divan Likay, Floors Arries, Christopher Prins en Keith Muller. Inlas: Michael Bevis. Foto verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'