Inbrake
Daar word by die meeste wonings ingebreek sonder geforseerde toegang. Inwoners en vakansiegangers sit dikwels in die kombuis of braaikamer terwyl die voordeur of bo-deur oopstaan. Oortreders klop dikwels met die verskoning om kos of werk te soek. As niemand dan antwoord nie, loop hy of sy in en neem selfone, beursies en skoot- of tabletrekenaars wat op die tafel staan. Installeer 'n sekuriteitshek en hou dit gesluit.
Diefstal
Moenie jou selfoon, beursie of juweliersware op die strand onder jou handdoek wegsteek nie. Dit is so goed asof jy dit vir iemand geskenk gee. Dit bly ook 'n risiko om waardevolle items in 'n mandjie te los, soos byvoorbeeld by 'n warmwaterswembad. Laat iemand toesig daaroor hou. Wat toerusting op huishoudelike persele betref, moenie goedere soos 'n tuinslang, 'n leer of ander goedere buite op die werf los nie. Die waarskynlikheid dat dit gesteel gaan word is net te groot.
Diefstal uit motorvoertuie
Sluit alle los goedere en waardevolle goed in jou voertuig se kattebak toe. Maak ook seker dat jou voertuig gesluit is. Parkeer jou motorvoertuig snags naby 'n straatlig en nie op 'n donker plek nie. Skootrekenaars, digitale kameras, selfone, beursies en kruideniersware is algemene goedere wat dikwels gesteel word.
OTM's
Bêre jou bankkaart se gehieme kode of pinnommer op jou selfoon onder 'n kode en nie op 'n papiertjie in jou beursie nie. Moenie iemand om hulp vra of toelaat dat iemand jou probeer help sonder toestemming nie. As jy onveilig by 'n OTM voel rapporteer dit en gaan na 'n ander een om jou transaksies te doen. Wees bedag op enige vreemde of onbekende toestelle naby of op die kaartgleuf. As jou kaart gesluk word, staan by die masjien en rapporteer dit onmiddellik telefonies aan die bank.
Rooftogte
'n Verlate strandgebied is gevaarlik. Moenie vroeg soggens of laataande alleen gaan stap nie. Loop in groepe. Hengelaars moet liefs nie alleen, veral nie op Diasstrand of op die rotste tot by De Bakke, hengel nie.
Algemeen
Wees geduldig in die verkeer. Maak afdrukke van jou ID, bestuurslisensie of ander belangrike dokumente. Neem foto's van waardevolle eiendom en reeksnommers. Hou dit op jou selfoon waar dit vinnig en maklik beskikbaar is om 'n beskrywing daarvan te gee indien dit gesteel word. Handhaaf goeie buurmanskap. Wees waaksaam en voorkomend.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'