OUDTSHOORN NUUS - 'n Driejarige seun van Oudtshoorn is gelukkig dat hy leef na hy Sondag deur 'n Amerikaanse veghond aan sy bolyf naby sy skouer gebyt is.
Klein Gershwin Jullies is Sondag na die hospitaal geneem waar hy steke gekry het. Hy is dieselfde dag ontslaan.
Elsie Jullies, Gershwin se ma, sê sy en die kind se pa is nie meer saam nie en sy het haar seun oudergewoonte vir die naweek na sy pa geneem.
Die hond wat Gershwin gebyt het, behoort aan die man by wie die kind se pa woon en is aan 'n ketting op die erf in Dassieweg vasgemaak. Die voorval het daar plaasgevind.
Volgens haar het sy geweet van die hond wat op die erf is, maar die kind was al 'n paar keer daar en daar was nog nie voorheen probleme met die hond nie.
Marilize Witbooi, een van die mense wat die voorval gesien het, het Maandag aan die Oudtshoorn Courant gesê dat Gershwin tussen sy pa se bene gestaan het toe die hond van die ketting losgeruk het en toe die kind aan die skouer beetgekry het.
"Almal weet die hond hou nie van kinders nie. Ons het Sondag die rumoer gehoor en gaan kyk, toe sien ons hoe byt die hond die kind. Hy het van die ketting af losgeruk en verby almal gehardloop en vir die kind gegaan. Hy het die kind aan die bors beetgekry. Gelukkig het die pa vinnig gereageer en op die kind geval voor hy die kind verder kon byt. Die hond het die pa toe so 'n paar keer aan die arm gebyt, maar hy is nie ernstig beseer nie."
Mentoor du Plessis, die eienaar van die veghond, Killer, sê die hond hou nie van kinders nie, omdat die bure se kinders en ander kinders wat daar kom, die hond terg.
"Die kleintjie het nie die hond geterg nie. Iets anders het die hond ge-trigger toe die kind uitkom. Ek kan nie die hond losmaak nie, want hier is te veel kinders wat op die erf beweeg. Die erf is ook klein en daarom kan ons nie 'n lang ketting opsit nie. Die hond word gereeld gestap en kry baie aandag. Hy is ook baie lief vir speel met ander honde, hy hou net nie van kinders nie."
Volgens Du Plessis het hy glo voorheen met die ouers van die kind gepraat en hulle gewaarsku dat die hond nie van kinders hou nie.
Die hond was Maandag steeds by die huis. Geen klag is by die polisie aangemeld nie.
•Colleen Smith, voorsitter van Oudtshoorn Dogs in Need (ODIN),'n diereliefdadigheidsorganisasie, sê eienaars van veghonde moet meer verantwoordelik vir hul honde wees.
"Dit belangrikste ding om te onthou van 'n pittbull is dat daar altyd 'n moontlikheid is dat hulle kan byt.
"Dus is dit belangrik om seker te maak die hond word by die regte teler gekoop en nie 'n agterplaasteler wat nie geregistreer is nie.
"Om 'n hond aan 'n ketting vas te maak is ook een van die verkeerdste goed om te doen en dit is waarskynlik hoekom die hond die kind gebyt het.
"Die ketting is nie eens lank genoeg vir die hond om rond te beweeg nie en dit lei tot groot frustrasie vir die hond.
"Honde, en veral pittbulls, het baie oefening nodig. Dit is in elk geval teen die dierebeskermingswet om hom vasgeketting te hou."
Killer, die veghond wat die driejarige gebyt het.
Die gekneusde bolyf van Gershwin na die hond hom gebyt het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'