Update
OUDTSHOORN NUUS - AfriForum se Oudtshoorn-tak het verlede week 'n geslaagde Veg en Bou-week gehad.
Volgens Johan Conradie, Oudtshoorn-takvoorsitter, het die week verlede Saterdag met praktiese opleiding vir trauma bystanders begin.
Johan Kloppers en Izel Kruger van AfriForum-hoofkantoor het die opleiding gedoen.
Maandag het die program voortgegaan met 'n gesprek oor, 'Hoe veilig is Suid-Afrika nog?'
Die paneelbespreking was met Johan Kruger as gespreksleier en die paneellede was Raymond Hohls, veiligheidsvoorsitter van AfriForum se hoofkantoor, Nick Arnold, hoof van Forum Sekuriteit, maj. David Olivier, veiligheidspesialis van AfriForum en genl. Roland de Vries en Johan Kloppers.
Conradie sê daar is veral klemgelê op die talle veiligheidsrisiko's wat vandag in die land heers wat ook sal uitbrei.
"Ons moet ons mense paraat kry om die gevare die hoof te bied. Tans is ons nog veilig hier in Oudtshoorn, maar kriminele elemente is ook besig om hierna toe uit te brei, veral om hulle besighede hier op die been te kry."
Brig. Susan Crafford, stasiebevelvoerder van Oudtshoorn-polisiestasie, het 'n oorsig van die situasie in Oudtshoorn gegee.
Conradie het 'n uiteensetting van die buurtwagte in Oudtshoorn en AfriForum se Oudtshoorn-tak gegee.
Daar is ernstig klem gelê op die feit dat die polisie, buurtwagte, sekuriteitsmaatskappye en ook verkeer baie nou moet saamwerk.
Dinsdag se praatjie het oor landbou gegaan met die tema: Is ekonomiese oorlewing en 'n welvarende landbou toekoms moontlik in SA?
Daar was 'n paneelbespreking met Raymond Hohls as gespreksleier. Die paneel het bestaan uit Jaco Kleinhans, Solidariteit-skakelbeampte, Tiaan Theron, 'n Karooboer en Laubscher Coetzee van Agri Wes-Kaap.
Conradie sê uit die gesprek was dit duidelik dat landbouvolhoubaarheid wel moontlik is in 'n land met soveel aanvalle op boere.
Woensdag is daar met veral leerders gepraat oor besoedeling in die omgewing.
Donderdag is daar ondermeer op plaaslike regerings en die ekonomie van die dorp gesels.
"Hannes Noëth van Helpende Hand het 'n roerende toespraak gelewer oor die voetspoor van Helpende Hand in 'n gemeenskap. Sy verwysing is dat mense na hulself moet begin kyk, nie altyd wag vir iemand anders om iets vir hom/haar te doen nie. Lui mense word gekweek."
Kallie Kriel het gesels oor gemeenskaps-federalisme.
Conradie sê hy wil die spreker en die borge bedank wat gehelp het om van die week 'n sukses te maak.
Vorige artikel: Veg en Bou-week in Oudtshoorn gehou
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’