DYSSELSDORP NUUS - 'n Man wat die Wendy-huis van sy voormalige saamleef-maat in die informele woonbuurt, Heinz View, aan die brand gesteek het, is Dinsdag in die Oudtshoorn-streekhof aan huisbraak en brandstigting skuldig bevind en tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis.
Willem Potgieter (47) het op 7 Augustus 2019 by die woning van Sabina Potgieter ingebreek toe sy nie tuis was nie.
'n Paar dae later was hy weer daar. Hulle was in 'n stryery oor die huis se sleutels betrokke en sy het hom gevra om te loop omdat hy ongeskik is met haar en haar kinders.
Hy het haar met klippe gegooi en gedreig om die huis af te brand. Nadat sy die polisie geskakel het, het sy haar TV-stel en nog persoonlike besittings geneem en saam met die polisie na familie gegaan.
Sy het in die middel van die nag gehoor dat haar huis afgebrand het en sy alles wat nog daarin was verloor het.
Volgens haar het die beskuldigde gedink dat hulle nog in 'n verhouding was, maar dat dit nie die geval was nie. Hy is die neef van haar oorlede man.
'n Buurvrou het getuig dat sy die betrokke aand in haar badkamer was en gesien het hoe die beskuldigde deur 'n venster van die klaer se huis klim.
Toe sy die beskuldigde die volgende oggend langs die pad gekry het, het hy aan haar gesê om te gaan kyk wat gebeur het en gewaarsku dat hy haar huis ook sal afbrand indien sy aanhou om haar neus in ander se sake te steek.
Potgieter het alle skuld ontken en getuig dat hy die betrokke dag heeldag gewerk het en die huis gesluit was toe hy tuiskom.
Streeklanddros Sylvia Mandla het Potgieter se getuienis verwerp en gesê die klaer het alle reg gehad om haar huis te sluit omdat hy nie meer daar gewoon het nie. Die hof kon geen rede vind om nie die getuienis van die klaer, haar buurvrou en 'n vriendin te aanvaar nie.
Potgieter is tot drie jaar vir huisbraak en vyf jaar vir brandstigting gevonnis wat samelopend uitgedien kan word wat beteken dat hy vyf jaar agter tralies sal moet deurbring.
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'