Dít is wat die Oudtshoorn Courant Woensdagmiddag op ‘n lappie grond buite Oudtshoorn moes aanskou. ‘n Informele boerdery op Neppon sowat 15km buite die dorp het ontaard in ‘n orgie van barbarisme en dieremishandeling.
Varkkarkasse verrot in die helder Klein-Karoo-son, terwyl swak, uitgeteerde varke vergeefs in leë voer-en waterbakke rondsnuffel vir iets om die innerlike te versterk. Daagliks vrek die varke in haglike omstandighede - dít terwyl die omringende lande en veld geil staan na die goeie reën.
Sommige van die eienaars - mens kan hulle nie boere noem nie - het bloot hulle varke aan hulle eie genade oorgelaat - sonder kos, water of enige vorm van sorg. Van inenting en ‘dip’ is daar nie sprake nie.
Die Oudtshoorn Dierebeskermingsvereniging het Woensdag die skokkende ontdekking gemaak nadat ‘n inwoner van die dorp hulle oor die situasie ingelig het.
Die stank is ondraaglik en brommers zoem oor tientalle dooie varke wat gestrooi by die hokke lê. Maaiers krioel oor die vark-oorskot, sommige geprop in ‘lewendige’ wit streepsakke.
Dit lyk asof slegs een van die sowat 18 varkeienaars omsien na sy diere. Kleinboer, Gert Jones besit min of meer 90 speenvarkies en 15 bere en soë. Hy het ook ‘n aantal beeste wat in die omgewing wei.
Ten tye van die DBV en die Oudtshoorn Courant se besoek was dit dan ook net hy wat ‘n werknemer, Daniël Lindt op die perseel gehad het. Sy varke kry gereeld kos en het darem ook Woensdagoggend water gekry. Die ander ‘boere’ se varke se waterbakke was dolleeg, vol modder en van die varke word gehuisves op planke oortrek met spykers. Die jong varkies is duidelik vreesbevange en geen wonder nie - varke word ten aanskoue van dié wat voorlopig die mes vryspring, doodgemaak en geslag. Hulle word bloot met ‘n draad vasgebind en keelaf gesny.
Bakhand-houding
Die perseel is ‘n aantal jare gelede deur die munisipaliteit aan die varkeienaars beskikbaargestel omdat hulle as gevolg van gesondheidsredes nie hulle varke in die woonareas rondom Oudtshoorn mag aanhou nie.
Die voorsitter van die DBV, Hennie Davel sê die eienaars wil nou hulle verantwoordelikhede op die munisipaliteit afskuif. "Hulle staan bakhand en blameer alles op die munisipaliteit. Hulle eis dat die munisipaliteit vir hulle hokke bou en kos verskaf en selfs gate grou om die dooie diere te begrawe. Dis skandalig. Elke eienaar van ‘n dier moet self verantwoordelikheid vir die welstand van sy dier aanvaar. Hoe kan jy wil boer as jy nie bereid is om na jou diere te kyk nie?"
Die DBV het die staatsveearts in kennis gestel en ook die polisie se hulp ingeroep. Die polisie het gisteroggend die terrein besoek en meeste van die eienaars daar aangetref, aangesien die nuus van die DBV se ingryping soos veldbrand versprei het. Volgens Davel sal klagtes definitief volg. "Hier is een eienaar wat glo twee, drie weke laas by sy varke was. Hulle is uitgehonger en in ‘n baie swak toestand. ‘n Klag van dieremishandeling sal teen hom gemaak word, terwyl die ander boere solank skriftelike en mondelinge waarskuwings ontvang hangende die uitkoms van die ondersoek."
Hy sê die varke kan nie sommer verwyder word nie, want om hulle te verplaas kan siektes versprei.
"Die DBV sal seker maak dat die varke gevoer word en ons sal voortdurend die situasie monitor."
Davel sê die munisipaliteit sal voorlopig ook help met voer.
"Ek het nog nooit so iets in my lewe gesien nie. Laat dié van ons wat nie varke is nie, hande vat en help."
Kontak die DBV by 044 279 1850.
Die babavarkie is sowat vyf dae terug dood en is gelos net waar hy gevrek het - reg langs sy ma se hok.
ARTIKEL EN FOTO'S: ILSE SCHOONRAAD, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR