OUDTSHOORN NUUS - 'n Betonheining, wat ten duurste opgerig word om te verhoed dat voetgangers en veral kinders voor voertuie beland, is tydens 'n betoging erg deur inwoners beskadig.
Die betonheining wat langs die N12 vanaf Rose Valley in die rigting van Oudtshoorn opgerig word, is deel van die kontrak om die N12 op te gradeer.
Tydens betogings oor werksgeleenthede twee weke gelede is 'n groot gedeelte van die heining vernietig. Inwoners wat naby die besige pad woon het Dinsdag aan die Oudtshoorn Courant gesê, hulle verstaan nie hoe mense iets wat vir hulle kinders se veiligheid opgerig word, afgebreek word nie.
"Die mense het betoog oor werk en dan gaan staan en breek hulle goed af wat die mense by wie hulle werk soek, gebou het. Hoe werk hulle koppe?" het 'n vrou wat nie haar naam wou noem nie, gesê.
'n Heining tussen die huise en die N12 is noodsaaklik aangesien verskeie kinders reeds deur voertuie op die pad raakgery is. In van die voorvalle is kinders dood nadat hulle raakgery is.
Na afloop van die betogings het die kontrakteur ingestem om 30 addisionele werksgeleenthede te skep. Navrae oor die koste van die muur en die skade wat aangerig is, is deur die kontrakteur na die provinsiale departement van vervoer verwys.
Daar word nog op 'n reaksie gewag aangesien die woordvoerder die navraag eers gister ontvang het.
Die deel van die heining wat tydens 'n betoging beskadig is en vervang moet word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'