OUDTSHOORN NUUS - Die St. Niklaas Katolieke Kerk in Impalaweg het verlede week groot skade gely na boosdoeners twee keer ingebreek het.
Volgens vader Dennis Ongansie, hulp-priester van die kerk, het die eerste voorval reeds verlede Maandag plaasgevind toe daar by die vertrek waar die blaasorkes oefen, en van die instrumente gestoor word, ingebreek is.
"Meeste van die instrumente word gelukkig deur die orkeslede huis toe geneem, maar daar was ongeveer 10 instrumente wat vir ons nuwe lede gestoor word. Hulle het al die instrumente wat oor was stukkend gekap. Ons vermoed hulle wou dit vir skrootmetaal verkoop. Dit is nie duidelik of hulle enigiets gesteel het nie, maar hulle het wel stukke van die instrumente wat hulle stukkend gekap het gevat."
Volgens Ongansie dateer van die instrumente uit die sestigs en sewentiger jare.
"Dis baie ou instrumente wat ons oor die jare baie mooi opgepas het. Dis kosbare stukke. Daar was onder andere 'n splinternuwe althoring wat ons onlangs vir R10 000 aangekoop het. Hulle het 'n dag later weer ingebreek, maar al die instrumente is toe reeds weggevat. Net die orrel was oor en hulle het selfs dit oopgebreek. Ons vermoed hulle het die koper binne die orrel gesoek."
Ongansie sê die skade na die inbraak is meer as R60 000. Die skade aan die gebreekte venster beloop ongeveer R12 000.
"Dit is vir ons regtig hartseer dat mense dit wat ons vir die gemeenskap probeer opbou net afbreek en nie eens twee keer daaroor dink nie."
'n Klag oor die voorval is by die polisie ingedien.
Die voorval by die kerk het plaasgevind kort na Oudtshoorn Courant oor die plundervoorval by die ou Standard Bank-gebou in Kerkstraat berig het. Daar is berig dat daar ondermeer stukke van die trapreling op die stoep van die gebou, sowel as stukke van die yster geute teen die muur ook reeds afgebreek en weggedra is.
Die vensters van die St. Niklaas Katolieke Kerk is deur boosdoeners gebreek.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'