OUDTSHOORN NUUSFLITS - Die polisie se spesiale ondersoekeenheid, die Valke, het op Kannaland se munisipaliteit en Icosa se kantore in Ladismith toegeslaan. Rekenaars en dokumentasie is gekonfiskeer.
Kapt. Lloyd Ramovha, Wes-Kaapse woordvoerder vir die Valke, het vanoggend bevestig dat hulle Dinsdag, 17 Oktober by die vermelde instansies toegeslaan het.
“Geen arrestasies is uitgevoer nie. Ons het wel sekere items, soos rekenaars, gekonfiskeer,” Ramovha sê die beslaglegging is deel van ‘n bedrog-ondersoek.
"Hy wou egter nie verdagtes se name noem nie. “
Icosa het die Kannaland-munisipaliteit tot voor die 3 Augustus 2016-verkiesing regeer.
“Ons gaan nie op hierdie stadium sê of die bedrog-ondersoek met die regering van die munisipaliteit verband hou nie,” het Ramovha gesê.
Icosa se nasionale woordvoerder en Wes-Kaapse provinsiale leier, Dawid Kamfer, sê, “die Valke se besoek was onverwags. Dit was ‘n skok. Ons weet nie wat is die motief nie.”
Kamfer het sy kommer uitgespreek oor die feit dat daar op Icosa-lede se lidmaatskapdokumentasie beslag gelê is. “Persoonlike inligting is daarin vervat.”
Ian Avontuur, woordvoerer vir die Kannaland-burgemeester, het gesê hulle sal vanoggend met die munisipale bestuurder, Reynold Stevens, vergader. “’n Persverklaring sal na die vergadering uitgereik word oor die beslaglegging.”
Lees meer in Vrydag se Oudtshoorn Courant, asook aanlyn.
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'