Hierdie week het Oudtshoorn Courant die voorreg gehad om by Leon en Elna Bester te kuier en oor hul stokperdjie te gesels. Die paartjie wat oorspronklik van Heidelberg in Gauteng afkomstig is, het na hul aftrede, twee jaar gelede, na Oudtshoorn verhuis. Verskeie boompies in `n reeds uitgebreide versameling kon nie die tog meemaak nie, en dit was moeilik om tussen die boompies te kies, erken Leon.
Ter plaatse is hul versameling egter gou weer aangevul deur vondse uit die veld en gereelde besoeke aan kwekerye.
Leon, 'n afgetrede IT-tegnikus, vertel dat sy belangstelling in bonsai-bome reeds tydens sy universiteitsjare geprikkel was. "Ek kan nie so goed onthou nie, maar ek het 'n foto van 'n bonsai-boom iewers in 'n boek gesien. Van daar af het die belangstelling net groter geword en het ek my eie plante begin kweek."
Dit is `n tydverdryf wat Leon vir die afgelope 50 jaar met ywer bedryf, as student en kreatiewe skepper.
Hy vertel dat olienhout, geelhout en die wildevy van sy gunstelinge is om mee te werk. "Veral die wildevyeboom, as gevolg van die estetiese waarde daarvan – hoe die wortels van die boom oor rotse groei, en omdat dit gehard is teen die elemente. Dit is ook 'n maklike plant om te versorg."
Die paartjie is albei lief vir die natuur en verduidelik dat bonsai kwekery 'n manier is om hulself uit te leef. "Dit is kalmerend en bied 'n rustige uitkoms uit 'n andersins spanningsvolle dag." En die bonsai-wêreld is divers: daar is omtrent 20 style met nog meer substyle om van te kies. Daar is ook net twee tipes bonsai: Penjing, wat van Chinese afkoms is, en Japanese Bonsai. Die paartjie beoefen al twee tipes.
Leon vertel ook dat kleipotte spesiaal gemaak word vir die bome, omdat die pot by die plant moet pas. "Die pot moet bestand wees teen die elemente, en moet 'n sekere diepte wees na gelang van die wortelstelsel en spesiaal vir die boom self," verduidelik sy vrou, Elna, wat self van hierdie potte met Oudtshoorn-klei maak. Om die potte te maak was ook self 'n leerproses. "Deur die jare het ons geleer watter tipe klei om te gebruik. Stoneware speel 'n groot rol omdat dit bestand is teen die elemente." Party potte word ook van Japan af ingevoer.
Die streek se groen vingers kom elke vier jaar byeen tydens 'n bonsai-konvensie in Groot-Brakrivier, wat ook deur Oudts-
hoorniete bygewoon word.
Elna en Leon by hul waardevolle en geliefde bonsai-boompies.