OUDTSHOORN NUUS - Radie Loubser se Boran-stoetkudde, Umoja, het weereens tydens die Boran Nasionale Veiling op Afridome in Parys, onder die top-5 geëindig en die vierde prys vir die vrugbaarste Boran-kudde in Suid-Afrika gewen. Hierdie veiling is deur bykans 300 telers bygewoon.
Twee koeie behaal goeie pryse
Die Umoja-stoetkoei, Polkadot (Lot 8), het 'n ongelooflike R220 000 op die veiling behaal. Loubser vertel dat Polkadot merkwaardige genetiese kenmerke het en dat Boran-beeste met wit en bruin merke tydens die jaar se veiling hoog op aanvraag was.
Volgens Loubser het Polkadot se pa, Picasso, ongelooflike goeie genetiese merke wat dit aanbetref, en het 'n strooitjie van sy semen by die veiling vir 'n wêreld rekord prys van R33 000 per strooitjie verkoop.
Jameela (Lot71), ook van die Umoja-stoetkudde, het ook 'n goeie prys van R70 000 op die veiling behaal.
Die Umoja-stoetkudde
Loubser het tydens die onlangse knellende droogte in Oudtshoorn besluit om sy Boran-stoetkudde na Smithfield in die Vrystaat te skuif en sy Boran-kommersiële kudde na Louwna in Noordwes te skuif.
"Net om my kudde aan die lewe te hou het ek vir 'n hele paar jaar my Boran-kudde hier in Oudtshoorn met opgekerfde Turksvyblare en Prosopis peule gevoer. Die kudde se produksie het dramaties afgeneem en ek moes 'n besluit neem om my kudde te skuif," vertel Loubser.
Loubser is dankbaar dat hy die skuif gemaak het en vertel dat sy kudde goed aangepas het in hulle nuwe omgewing.
Waar is die Baron-beesras oorspronklik vandaan?
Volgens Loubser is die Boran-beesras oorspronklik van Kenya, en is dit 'n inheemse Afrika-vleisras wat hoogs aanpasbaar, vrugbaar en gehard is en lae onderhoud vereis.
"Hierdie ras is baie besonders en lewer goeie resultate en vleisproduksie onder geharde toestande."
Loubser het die naam, Umoja, wat eenheid in Swahili beteken, vir sy stoetkudde gekies omdat hulle 'n sterk instink het om saam te beweeg.
"Hierdie beeste het 'n besonderse sterk instink om in 'n trop te beweeg, en dit is gedeeltelik omdat hulle in Afrika saam met die wild moet oorleef."
Polkadot het 'n ongelooflike R220 000 op die veiling behaal.
Jameela het R70 000 op die veiling behaal.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'