TUINROETE DISTRIKNUUS - Die koronavirus is 'n vreemde ding waarvan ons elke dag nuwe dinge leer - en omdat ons so min daarvan weet, heers onsekerheid en vrees.
Dis die mening van Mias du Plessis, kringbestuurder van Kring 1 van die Eden en Sentrale-Karoo onderwysdistrik van die Wes-Kaap onderwysdepartement (WKOD).
"Die moontlike hervatting van die skooljaar op 1 Junie gaan 'n groot toets vir ons skole wees. Daar is duisende vrae en baie minder antwoorde, maar dit kan ek met sekerheid sê: Alles wat die WKOD tans doen, is daarop gerig om almal - leerders, onderwysers en ander personeel - onder die omstandighede so veilig as moontlik te hou. Ons wil nie hê die onderwys moet die skuld kry dat ons die koronavirus versprei het nie, maar ons kan ook nie vir die volgende twee, drie jaar onder lockdown bly nie. Die kwesbaarste leerders is dié wat nou die swaarste kry."
Volgens hom het die departement begin om maskers en ontsmettingsmiddels by skole te versprei. Angie Motshekga, minister van basiese onderrig het bekend gemaak dat leerders in fases na skole sal terugkeer.
Gr. 7's en matrieks sal op 1 Junie die eerste wees, waarna die volgende groep elke twee weke sal teruggaan.
"Die grootste bekommernis is dat daar nie sprake van die voorgeskrewe 2 m-afstand kan wees nie - nie in 'n klas van 40 leerders nie. Volgens voorlopige riglyne is dié vereiste vir klaskamers opgeskort, met dien verstande dat nie meer as twee leerders by 'n bank mag sit nie en dat almal heeltyd maskers moet dra," sê Du Plessis.
Hoofde by van die skole het reeds 'n plan bedink om dié afstand te handhaaf.
Riversdal
Volgens André Latsky, hoof van Hoër Landbouskool Oakdale is van die klasse met 'n groot leerdertal reeds voor die inperking in kleiner groepe verdeel en ekstra onderwysers aangestel.
"Ons het nog nie 'n plan oor hoe om die jong kinders die nodige afstand van mekaar te hou nie. Ons kan nie die klasse kleiner maak nie, want dan kort ons meer opvoeders wat ons nie kan bekostig nie," sê Chrystal Pietersen-Grootboom, hoof van Voorwaarts Primêr.
"Dis nog haalbaar om te sê die hele matriekklas kan veilig in die skoolsaal gehuisves word, maar dit sal nuwe uitdagings skep wanneer almal terug is."
Nog 'n bekommernis is hoe om deur die leerplan te kom. "Ons sal maar moet kyk hoe ver ons met die leerplan kan vorder," sê sy.
Die onderwysers het hul leerders se ouers op WhatsApp-groepe, maar dit help nie eintlik nie. "Ons leerders het nie toegang tot internet en data nie. Ons het toe besluit om die werk af te rol sodat hulle dit kan saamneem wanneer hulle kos kom haal."
Katinka Fox is 'n onderwyser in verbruikerstudie by Hoërskool Langenhoven op Riversdal.
"Ek is bekommerd oor my matriekkinders wat nie in die skool is nie. Hulle doen al die werk wat hul onderwysers op sosiale media vir hulle gee, maar ek wil hê hulle moet kan skoolgaan om die jaar af te handel."
Heidelberg
Mnr. Vivian Prins, hoof van Kairos Senior Sekondêr het gesê hulle sal die matrieks wat almal byvoorbeeld vir Afrikaans of Engels in dieselfde klas kan wees, in die skoolsaal laat skoolgaan.
Mosselbaai
Mnr. Adolf Gouws, hoof van Hoërskool Punt sê hy en sy personeel sal gereed wees om die matrieks te ontvang. 'n Covid-span is besig om die nodige toerusting, soos nog koorsmeters, aan te skaf om die departement se voorraad van onder meer maskers en ontsmettingsmiddel aan te vul.
"Die ouers is besorg oor hul kinders se veiligheid en dat hulle die virus na die res van die gesin kan oordra indien hulle dit opdoen. Ek is bekommerd oor kwesbare onderwysers wat baie blootgestel sal wees. Daar was 19 gevalle in die dorp, maar almal is gesond en daar is nie nuwe gevalle nie. Ons hoop maar vir die beste, want ons moet aangaan."
Oudtshoorn
Mnr. Stephanus Potgieter, hoof van Langenhoven Gimnasium sê hulle is reg om die skooljaar te hervat. "Die belangrikste is hoe ons die kinders gaan ontvang. Ons gaan byvoorbeeld almal se temperatuur meet wanneer hulle aankom. Ons sal ook die skooldag reël sodat almal nie gelyk pouse het nie."
Hy sê die ouers, wat beïndruk is met die manier hoe onderwysers hul kinders se skoolwerk met sosiale media op datum gehou het, vertrou dat hul kinders veilig sal wees.
Tinka Fox, is net soos talle van haar mede-matrikulante, gretig om haar matriekjaar suksesvol te voltooi en glo dit kan die beste op die skoolbanke gedoen word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'