OUDTSHOORN NUUS - Lente het vanjaar op 'n goeie noot begin na tweeling donkies Saterdag op 'n kleinhoewe buite Calitzdorp gebore is.
Volgens Andrew Cook, die eienaar van die donkies, het hy 'n jaar gelede die merrie en hings aangeneem na hulle gered is.
"Ons het gesien die merrie, Meisie, raak al vetter, maar ons het gedink sy eet maar net goed.
"Saterdagoggend toe ek hulle kos gaan gee, het ek een babadonkie gesien. Ek het hom afgeneem en my vrou gaan wys en toe ons te-rugkom toe sien ons daar is eintlik twee," het hy trots vertel.
Cook sê die tweeling is 'n hings en 'n merrie.
"Die hings, Joaquin, is die spelerige een wat nie so bang is vir mense nie en Ana is die merrie. Sy is 'n tipiese meisie. Sy is skaam en kruip so bietjie agter ma se bene weg," het hy vertel.
Meisie en die twee vulletjies.
Cook sê hy was aanvanklik bang dat Meisie die tweeling gaan verwerp.
"Die pa, Boytjie, wou nie hê die een kleintjie moes drink nie, so hy is nou vir eers in 'n ander kamp. Toe hy weg is het beide maklik aan haar gedrink. Sover gaan dit regtig goed met hulle," het hy vertel.
Volgens hom is Boytjie glo gekastreer.
"Dit is dus moeilik om te sê of dit sy kinders is, maar donkies kan tot 'n jaar aan 'n kleintjie dra. Die moontlikheid is dus dat hy reggemaak is na sy dragtig geraak het," het hy gesê.
Cook sê die donkies het vir hulle reeds groot vreugde gebring.
"Hulle vriendelik en spelerige persoonlikhede is ongelooflik om te aanskou. Hulle gallop elke oggend en dit herinner mens nogal aan die flieks met die wilde perde, behalwe die vulletjies is baie mooier," het hy gesê.
Ana, die merrievul.
Annemarie van Zijl van Eseltjiesrus Donkey Sanctuary in McGregor sê dié verskynsel is baie skaars.
"'n Merrie kan tot 12 maande dra aan die kleintjie. 'n Tweeling is geweldig skaars en die feit dat hulle beide steeds leef is ongelooflik. Gewoonlik verwerp die ma een of een is te swak om te oorleef. Hierdie verskynsel is ongelooflike goeie nuus," het sy gesê.
Lees 'n vorige artikel: Tweeling donkies gebore
Andrew Cook saam met Meisie en haar kroos. Hulle was Dinsdag, toe die foto geneem is, vier dae oud.
ARTIKEL EN FOTO'S: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'