OUDTSHOORN NUUS - 'n Tweede botsing hierdie jaar by die kruising van St John- en St Georgesstraat het plaasgevind omdat 'n stopstraat volgens videomateriaal oorgesteek is.
Die jongste voorval het Saterdagoggend omstreeks 10:00 plaasgevind toe 'n Opel Corsa-bakkie deur 'n Toyota Fortuner getref is.
Die Corsa-bakkie was vanaf die dorp se rigting met St Johnsstraat onderweg toe die Fortuner, wat met St Georgesstraat onderweg was, nie by die stopstraat gestop het nie. Die Corsa is aan die linkerkant getref. Die bestuurder van die Corsa is as voorsorgmaatreël hospitaal toe geneem nadat hy van pyn aan sy been en bolyf gekla het.
Volgens 'n familielid is hy dieselfde dag ontslaan. Die botsing is op 'n sekerheidskamera van 'n onderneming by die kruising opgeneem.
Dieselfde kamera het in Maart beeldmateriaal verskaf van 'n botsing tussen 'n motorfiets en 'n afleweringsvoertuig. In daardie botsing was dit die motorfiets wat nie by dié stopstraat stilgehou het nie. Die afleweringsvoertuig was met
St Johnsstraat in die rigting van die dorp onderweg toe die motorfiets uit
St Georgesstraat gekom het en die bakkie getref het. Die motorfietsryer is met veelvuldig beserings hospitaal toe geneem en moes 'n operasie ondergaan.
Stopstraat geïgnoreer
Volgens die eienaars van twee onder-nemings by dié kruising sien hulle gereeld hoedat bestuurders die stoptekens in
St Georgesstraat ignoreer. "Dit is eintlik verstommend dat hier nie meer ongelukke plaasvind nie, want daar is baie mense wat nie hier stop nie. Party loer darem so half voor hulle ry, maar ander ry sommer net oor," het 'n werknemer Saterdagoggend op die toneel gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'