OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen twee mans van Dysselsdorp wat daarvan aangekla word dat hulle 'n 75-jarige winkeleienaar van Stolsvlakte aangerand en beroof het, is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof vir verhoor uitgestel.
Dit volg nadat vertoë wat die verdediging tot die direkteur van openbare vervolging gerig het om die saak te skrap, onsuksesvol was.
Die saak het verlede jaar voor wyle streeklanddros Mark van Wyngaardt gedien en is nou as nuwe saak op die hofrol. Volgens die staatsaanklaer, Hyron Goulding, is 'n nuwe klagstaat voorberei.
Die staat voer aan dat Ronaldo Olkers en Koos van der Ross op 29 Mei 2017 vir Frans Tredoux na bewering in sy winkel met 'n knopkierie oor die kop geslaan, met 'n skerp voorwerp gesteek en van R200 kontant beroof het. Hy kon weens verswakte gesondheid nie in die saak getuig nie en is in Desember verlede jaar oorlede.
Olkers het 'n vrywillige bekentenis aan 'n onafhanklike polisiekolonel afgelê en borgtog is aan albei geweier. Olkers en Van der Ross se regsverteenwoordigers, Eugene Roos, van die plaaslike Regshulpraad en adv. Stoffel Prinsloo, het die hof na Tredoux se dood versoek om die oorkondes te laat tik vir vertoë wat hulle tot die DOV gerig het.
Die vertoë was onsuksesvol en die saak is vir verhoor deur streeklanddros Retha Pretorius tot 3 Augustus uitgestel.
Lees 'n vorige artikel: Bekentenis in aanrandingsaak toegelaat
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'