Update
OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van die twee mans van Stolsvlakte wat na bewering 'n 75-jarige winkeleienaar, Frans Tredoux, in sy winkel aangerand en beroof het, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof tot volgende maand uitgestel.
Dit kom na 'n versoek van die verdediging dat 'n bekentenis van een van die beskuldigdes nie as bewysstuk toegelaat moet word nie, maar dit is deur die hof van die hand gewys is.
Streeklanddros Mark van Wyngaardt het bevind Ronaldo Olkers moes geweet het dat die bekentenis teen hom gebruik kan word.
Hy het die bekentenis vrywilliglik teenoor kapt. Johannes Nel gemaak nadat hy ingelig is dat dit nie nodig was om dit te doen nie.
"Dis so eenvoudig. Die staat het nie eers nodig gehad om getuies te roep nie omdat daar niks meer nodig was om vir hom te sê nie," het die landdros gesê.
Die landdros het bygevoeg dat hy nie kan verstaan waarom Olkers en sy medebeskuldigde, Koos van der Ross, nog onskuldig pleit terwyl Olkers al die feite van die saak in die bekentenis weergee.
Die hof het gevolglik die versoek van die twee se regsverteenwoordigers, adv. Stoffel Prinsloo en Eugene Roos, van die hand gewys en beslis dat die bekentenis heeltemal toelaatbaar is.
Die saak is daarna vir verdere verhoor tot 11 Desember uitgestel.
Olkers en Van der Ross, wat in aanhouding bly, staan tereg op aanklag van roof met verswarende omstandighede en aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Frans Tredoux se eggenote, Cornelia (70), het verlede week getuig dat haar man tans baie siek is en nie in die saak sal kan getuig nie.
Klik hier vir vorige artikels:
- Bejaarde wreed aangeval: 2 in hof
- Opvolg: Bejaarde wreed aangeval
- Opvolg: Wreed aangerand vir R200
- Wreed aangerand vir R200
ARTIKEL: GARNETT WICOMB, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'