OUDTSHOORN NUUS - Twee inwoners van GG-kamp, Oudtshoorn, het Woensdag besluit om 'n gedeelte van die informele nedersetting skoon te maak.
Volgens Edward Jansen, een van die skoonmakers, woon hy en Micheal Claasen, al 'n geruime tyd in GG-kamp.
"Die gedeelte wat ons besluit het om skoon te maak is 'n deel wat gereeld deur 'n rioolpyp bemors word. Die rioolpyp kom van die bokant van die kamp af en die gemors stroom oor die grond tot byna teen die heining van die abattoir. Die mense stort ook enige gemors hier."
Volgens hom is dit geweldig onhigiënies en moet hulle gereeld kinders keer wat in die opgedamde water wil speel.
Jansen en Claasen het die skoonmaakveldtog begin omdat hulle werkloos is.
"Ons wou mense wys jy kan 'n verskil maak sonder om daarvoor betaal te word. Ons woon in die gemeenskap en ons is verantwoordelik vir die netheid van waar ons woon. Ons nooi ook ander mense om ons te help om die GG-kamp weer skoon en netjies te kry."
Volgens hom sukkel hulle egter met gereedskap. "Ons het net 'n graaf en hark en enige hulp in verband met gereedskap sal waardeer word."
Enigiemand wat wil help kan Jansen by 074 233 0297 of Claasen by 066 421 4551 skakel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'