Update
OUDTSHOORN NUUS - Twee jong mans van Ladismith wat 'n 85-jarige vrou in haar huis met 'n mes gedreig en beroof het, is in die Oudtshoorn-streekhof aan huisbraak en roof met verswarende omstandighede skuldig bevind en onderskeidelik tot agt en 10 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Joshwill Januarie (19) en Morné Adams (23) het skuldig gepleit op albei aanklagte.
Hulle het erken dat hulle op 18 Mei vanjaar die agterdeur van Maria Swart oopgebreek en van twee potjies lekkers, sleutels, 'n koekmes,'n selfoon en R900 kontant beroof het.
Toe die vrou in die kombuis kom het hulle 'n lemoen in haar mond gedruk en met die koekmes gedreig.
Hulle het haar na die slaapkamer gedwing waar hulle haar selfoon en R900 kontant van haar gevat het.
Streeklanddros Daniël Boks het met vonnisoplegging gesê dit is skokkend dat twee jong mans 'n bejaarde, weerlose vrou in die veiligheid van haar huis beroof het en kan hulself gelukkig ag dat sy nie ernstige beserings opgedoen het nie.
Sy sê in 'n slagofferimpakverslag dat sy nooit kon dink so iets met haar kon gebeur nie.
"Ek is baie ongelukkig, hartseer, verneder, seergemaak en kwaad. Ek los nie meer 'n deur of venster oop nie en is alewig bang en bevrees in my eie huis."
Sy voel dat die beskuldigdes kan terugkom.
Sy slaap sleg, lê feitlik heelnag wakker en haar bloeddruk en suiker is nou die hoogtes in.
Die landdros het in ag geneem dat Januarie en Adams skuldig gepleit het en die klaer nie beseer is nie.
Hy het egter sy kommer uitgespreek oor die feit dat 'n bejaarde vrou in die veiligheid van haar huis beroof is.
Adams is tot 10 jaar en Januarie tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis en onbevoeg verklaar om vuurwapens te besit.
Vorige artikel: Twee van Ladismith beroof vrou van 85
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'