OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n vrou en 'n man van Gauteng wat teregstaan op twee aanklagte van bedrog is Vrydag in die Oudtshoorn-landdroshof vir verdere ondersoek uitgestel nadat die vrou besluit het om haar borgtogaansoek te laat vaar.
Idha Zigubu (59) en Nomvula Ndlovu (48) word daarvan aangekla dat hulle by twee geleenthede verlede maand onderskeidelik R18 000 en R85 000 uit Francina Moletsi se bankrekening by 'n Absa Bank op Oudtshoorn wou onttrek.
Landdros Theolin November het Donderdag borgtog van R5 000 met streng voorwaardes aan Ndlovu toegestaan. Hy moet op Maandae, Woensdae en Saterdae tussen 15:00 en 21:00 by sy naaste polisiestasie aanmeld, nie die land verlaat nie en nie by verdere misdaad betrokke raak nie. Ziqubu het die volgende dag besluit om haar borgtogaansoek te laat vaar.
Die saak is Vrydag vir verdere ondersoek tot 10 Desember uitgestel.
Sover vasgestel kan word het die twee voorgegee dat hulle magtiging het om die geld te trek, maar die bank het agterdogtig geraak aangesien die identiteitsdokumente nie eg gelyk het nie. Die polisie is ontbied waarna die twee in hegtenis geneem is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'